All Blacks het straks ook ʼn kaptein-dilemma

Kieran Read, die All Blacks se kaptein, in die hospitaal na die operasie aan sy duim. (Foto: Facebook/Kieran Read)

Terwyl Suid-Afrika nog wonder wie vir die Springbokke in die Junietoetse teen Frankryk gaan voor draf, is die All Blacks skielik in dieselfde bootjie met die duimbesering wat hulle kaptein Kieran Read opgedoen het.

Read is Saterdag in die oorwinning van 48-21 teen die Cheetahs van die veld en is dieselfde aand geopereer. Dit sal na verwagting ses weke wees voordat Read weer kan speel – net twee weke voor die All Blacks se eerste toets op 24 Junie teen die Britse en Ierse Leeus.

Saterdag was slegs Read se derde Superwedstryd vandat hy na ʼn polsgewrig-besering weer begin speel het. Hy het, benewens klubwedstryde, sedertdien nog net 125 minute se Superrugby vir die Crusaders gespeel om sy wedstrydfiksheid stelselmatig op te bou.

Hy sal darem, seer duim en al, aan gewone fiksheidsoefeninge kan deelneem. Maar is dit werklik goed genoeg vir toetsrugby?

♦  Die Crusaders se kaptein en die All Blacks se slot, Sam Whitelock, is vir twee weke geskors nadat hy die Cheetahs se voorryman Charles Marais met die voorarm in ʼn losskrum bygekom het. Hy sal dus nie Saterdag teen die Bulls op Loftus kan speel nie en sal die daaropvolgende week ook nie beskikbaar wees vir die baie belangrike wedstryd teen die verdedigende kampioen die Hurricanes nie.

Die Nieu-Seelandse voorlopers op die puntelys, die onoorwonne Crusaders, sal dus sonder hul voorste twee leiers teen die Hurricanes wees.

Die wedstryd in Christchurch  sal ongetwyfeld ʼn groot invloed op die uiteindelike posisies op die Nieu-Seelandse puntelys hê. Die verdedigende kampioen het reeds twee keer verloor en kan nie nog ʼn neerlaag bekostig nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.