All Blacks kan nie baie tevrede hiermee wees

Vaea Fifita – individuele hoogtepunt. (Foto: allblacks.com)

Verswakte span ofte nie, die All Blacks kan nie baie tevrede wees met hul vertoning Saterdag in New Plymouth in die Rugbykampioenskap teen Argentinië nie.

Die Pumas was rustyd met 16-15 voor nadat die All Blacks, wat slordiger in hulle samespel was as waaraan ʼn mens gewoond is, die eerste 25 minute van die wedstryd heeltemal oorheers het.

Die Nieu-Seelanders het wel drie baie goeie drieë gedruk, maar Beauden Barrett, wat weer nie kon raak korrel nie, het nie een verdoel nie.

ʼn Paar geleenthede om in die eerste helfte punte aan te teken het ook verlore gegaan.

Goed, dit was nie die heel beste span van Nieu-Seeland nie met ʼn paar groot name wat ruskans gekry het. Maar ʼn mens moet volpunte aan die Pumas gee vir hul inklimspel, en goeie verdediging wanneer die All Blacks naby hul lyn gedryf en gemaal het.

Ongelukkig was daar ʼn paar onsuksesvolle duikslae van Argentynse kant wanneer die bal verder van die pak wegbeweeg is, en dit het die Argentyne minstens een drie laat afstaan.

Twee strafdoele, een deur Nicolás Sánchez, en een van meer as 50 meter deur Emiliano Boffelli, en ʼn skepdoel van Sánchez het die Argentyne binne trefafstand gehou.

Toe Barrett nie die lyn vanuit sy eie kwartgebied haal nie, het die Pumas die bal naby hul doellyn uitgeskop, en die All Blacks se lynstaanbal gesteel. Ná ʼn paar fases het Sánchez ná die toeter gaan druk, verdoel en sy span met 16-15 teen rustyd laat voorloop.

Net ná rustyd het Boffelli met nog ʼn lang strafdoel geslaag en Sánchez het in die 50ste minuut nóg een bygevoeg en sy span 22-15 laat voorloop.

Toe het die individuele hoogtepunt van die wedstryd gevolg toe die flank, Vaea Fifita, groot, sterk en baie vinnig, letterlik om die agterlyn van die Pumas gehardloop het om in sy eerste opdraftoets te gaan druk. Lima Sopoaga wat op die veld was ná ʼn geel kaart aan Barrett, het van die kantlyn af verdoel en die telling was ná 65 minute gelykop.

En toe gaan druk Damian Mckenzie en Sapoaga verdoel weer van die kantlyn af, en het die Argentyne weer so sukkelend as in die eerste 25 minute begin voorkom toe hulle 22-29 agter is.

Sapoaga het dit met ʼn strafdoel na 70 minute 32-22 gemaak.

ʼn Drie deur Barrett in die 78ste minuut het die eindtelling op 39-22 te staan gebring.

Die puntemakers –

Nieu-Seeland 39 (15) – Drieë: Nehe Milner-Skudder, Anton Lienert-Brown, Israel Dagg, Vaea Fifita, Damian McKenzie, Beauden Barrett. Doelskoppe: Lima Sopoaga (3). Strafdoel: Lima Sopoaga.

Argentinië 22 (16) – Drie: Nicolás Sanchez. Doelskop: Nicolas Sanchez. Strafdoele: Nicolas Sánchez (2), Emilano Boffelli (2). Skepdoel: Nicolás Sánchez.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.