All Blacks kies grofgeskut vir 100ste toets

Die All Blacks is gereed vir die Springbokke in Townsville. Foto: Twitter.

Saterdag in Townsville wag daar ’n epiese ontmoeting tussen twee spanne wat ’n rugbywedstryd op totaal uiteenlopende maniere benader.

’n Geoliede aanvalsmotor wat seepglad loop teen ’n verdedigingsvesting wie se eens formidabele mure die afgelope twee naweke vol gate geskiet is.

Die All Blacks het ’n sterk span gekies om die Springbokke in die 100ste toetswedstryd tussen die twee lande aan te vat.

En al word mooi dinge van die Suid-Afrikaners in die Nieu-Seelandse media gesê – “wees versigtig vir ’n gekweste Springbok” – sal elke All Blacks-speler oorgehaal wees om ’n punt teen die Wêreldbeker-wenspan te bewys. Van Jordie Barrett op heelagter tot Joe Moody op stut.

Talle joernaliste en rugbykenners het immers al vantevore die Nieu-Seelanders gesmeek om wêreldrugby uit die kloue van die “vervelige” Springbokke te red.

Daarbenewens het hulle die Suid-Afrikaners vandeesweek op die internasionale ranglys verbygesteek; kortom, dit is nou ’n stryd tussen die beste vyftiental in die wêreld teen verdedigende wêreldkampioenspan.

Jordie Barrett is ’n veilige vesting op heelagter. Foto: Trevor Collens/AFP.

“Almal is opgewonde oor die naweek se wedstryd. Ons het hard gewerk om ons in ’n posisie te plaas om die Rugbykampioenskap te kan wen. Die feit dat die wedstryd teen Suid-Afrika is, maak dit selfs meer spesiaal,” het Ian Foster (All Blacks-afrigter) gesê.

Hy verwag egter ’n fel stryd voorlangs en hy is dankbaar dat spelers soos Joe Moody, Ofa Tu’ungafasi en Patrick Tuipulotu terug is om die Bokke se voorspelervuur te beveg.

“Dit sorg dat ons ’n kragtige pak voorspelers en ’n sterk plaasvervangersbank het.”

Die wedstryd begin Saterdag om 09:05 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

All Blacks: Jordie Barrett (heelagter), Will Jordan (regtervleuel), Rieko Ioane (buitesenter), David Havili (binnesenter), George Bridge (linkervleuel), Beauden Barrett (losskakel), TJ Perenara (skrumskakel), Luke Jacobson (agtsteman), Ardie Savea (kaptein en flank), Akira Ioane (flank), Scott Barrett (slot), Brodie Retallick (slot), Nepo Laulala (stut), Codie Taylor (haker) en Joe Moody (stut). Plaasvervangers: Samisoni Taukei’aho, Karl Tu’inukaufe, Ofa Tu’ungafasi, Patrick Tuipulotu, Ethan Blackadder, Brad Weber, Damian McKenzie en Quinn Tupaea.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Natasha ·

All Blacks het ‘n fantastiese span gekies. Ek is bly hulle het vir Beauden Barrett op losskakel. Dit gaan epic wees!

Johan ·

Wat beteken dit nou eintlik in die artikel dat die All Blacks ‘n STERK span gekies het, vir hul 100ste toetswedstryd teen die Springbokke? Asof enige span al ooit opsetlik ‘n swak span gekies het (behalwe as jy nie ‘n keuse het soos die WP nie).

Niklaas ·

Laat ons maar hoop vir die beste. Dit gaan een harde stryd wees. En ek is nie te optimisties nie , maar die vreugdevure sal hoog brand as ons hierdie een wen.

SomeOne ·

of dit nou ‘n vervelige springbokspan spel is of nie, om met ‘n halwe punt te wen is ‘n wen, waarvoor werk julle nie vir net 1 punt nie, dan wen julle met ‘n halwe punt, dan is dit nie so vervelig nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.