All Blacks kies hul beste span vir Loftus

Die All Blacks gaan Saterdag op Loftus Versfeld geen genade vra of betoon wanneer hulle teen die Springbokke in die Rugbykampioenskap speel nie.

Die All Blacks het reeds die Rugbykampioenskap Sondagoggend (SA tyd) teen die Argentynse Poemas in Buenos Aires beklink, maar die keurders, onder leiding van die afrigter, Steve Hansen, het die beste beskikbare span gekies om wraak te neem teen die Bokke, wat hulle ʼn paar weke gelede met 36-34 in Wellington geskok het.

Die oud-Springboksenter Brendan Venter, het in ʼn rubriek wat in Nieu-Seeland verskyn het, die All Blacks daarvan beskuldig dat hulle nie genoeg respek teenoor die Springbokke betoon het nie.

Nou wil hulle dit regstel, wys dat dit ʼn blote glips en gelukskoot was; dat hulle steeds die beste span in die wêreld is; dat hulle op die regte pad na aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan is. Hulle wil wys dat hulle die Bokke wel ag (deur hul beste span te kies) en nie twee keer opeenvolgens teen hulle wil verloor nie.

Hoe lyk die span?

Dit toon vier veranderings aan die opdrafspan wat die Poemas met 35-17 geklop het.

Die 23-jarige senter van die Crusaders, Jack Goodhue, speel in Ryan Crotty se plek saam met die 33-jarige Sonny Bill Williams (48 toetswedstryde) in die middelveld. Die beste skrumskakel Aaron Smith keer terug in die plek van TJ Perenara. Voorlangs keer die veteraan-vaskop Owen Franks en die kaptein, Kieran Read, terug ná hul ruskans in Buenos Aires.

Goodhue (5 toetswedstryde) en Williams het in Junie saamgespan in die laaste toetswedstryd teen Frankryk, en dit is dus nie ʼn vreemde kombinasie nie. Ook was Goodhue straks die beste senter in die Superreeks en word hy daarvoor beloon. Hy het wel vaart verloor nadat hy die 2015-seisoen weens langtermynbeserings misgeloop het, maar het genoeg ander vaardighede om daarvoor te vergoed.

Heel verrassend is die vlugvoetige Damian McKenzie nie op die bank nie, maar wel Crotty.

Dit wys dat die All Blacks direkte rugby gaan speel, ook laat in die wedstryd wanneer die asem kort begin raak.

Die All Black-span –

15 Ben Smith, 14 Waisake Naholo, 13 Jack Goodhue, 12 Sonny Bill Williams, 11 Rieko Ioane, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kaptein), 7 Sam Cane, 6 Shannon Frizell, 5 Scott Barrett, 4 Sam Whitelock, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Karl Tu’inukuafe. Bank: 16 Nathan Harris, 17 Tim Perry, 18 Ofa Tu’ungafasi, 19 Patrick Tuipulotu, 20 Ardie Savea, 21 TJ Perenara, 22 Richie Mo’unga, 23 Ryan Crotty.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Is Dit Moontlik ·

Wie kan so-iets reel?
Ek sit in die Kaap.
Afri? Enige ander organisasies – of sommer net die publiek – of die toeskouers- elkeen met ‘n plakkaat – hulle kan seker tog nie die hele Loftus in hegtenis neem nie?
Kan ‘n organiasie so ‘n voorstel publiseer?

Anoniem ·

Jammer ons kan nie die beste Springbok span kies om teen hulle te speel nie en die All Blacks weet dit.

waarheid ·

Manie, gelukkig weet die All Blacks dit want Hansen het in die NZ Herald daarvan geskryf. Hy het gese hoe weet sekere spelers of hulle daar op meriete is of net vir kleur – want dit kan vir hulle nie lekker wees nie. Hulle weet nie waarlik wat hulle vir die span beteken nie.
So ons sal maar moet sien wat gebeur. Partykeer kry die Bokke ‘n turbo boost wanneer hulle teen die All Blacks speel – dit is wanneer hulle regtig vir eer en trots speel en dit is meer as al die geld in die wereld werd.

Anoniem ·

Stem 100% saam met jou. Ek sal BAIE graag die pak voorspelers wil sien speel: Kitshoff, Marx, Kock, Etsebeth, Mostert, PS du Toit, Kwagga Smith, Whiteley. Daar is nie veel beter agterspelers as die wat tans daar is nie, dus sal ek hulle net so behou.

Jannie ·

‘Cheer’ vir die All Blacks uit volle bors!!!! Kosie gaan Saterdag vir seker ‘n ander lê-plek moet kry!!! LOL!!

Pietman ·

Werklike ondeurdagte plasing deur Brendan Venter. Jy VERDIEN respek, dit kom jou nie outomaties toe nie meneer Venter – Springbokke sal respek van teenstanders kry as hulle spel dit regverdig, en ook die van die publiek.

Niklaas ·

Kyk net na die AB span keuses , feitlik elke speler kan in n wêreldspan instap. Selfs een of 2 van die reserwes. Daar is ongelooflike diepte en talent in NZ. En hul het geen politieke inmenging daar nie. Ons arme Bokke sal voortaan spook en spartel teen hulle en , moet nie staatmaak op gelukskote soos in NZ teen hulle nie. Dit gebeur nie vreeslik baie dat AB s so n onverwagse verloor glips opdoen nie. Die Loftus stryd gaan groot wees !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.