All Blacks klop Fidji, maar krake wys

Die All Blacks in 2019. (Andrew Cornaga/Photosport via AP)

Wanneer ʼn rugbyspan 57 punte in wêreldrugby aanteken en nege drieë druk, moet daar sekerlik baie glimlagte in die kleedkamer wees.

Wanneer die teenstanders egter drie drieë druk en die meeste punte nóg teen jou aanteken, is daar rede tot kommer.

Die All Blacks het Saterdag in Dunedin die eerste van twee toetse teen Fidji met 57-23 gewen, nadat hulle rustyd met 21-11 voor was.

Die Fidjiane, wat met 14 Franse klubrugbyspelers spog, het die All Blacks egter harde bene laat kou en die telbord vertel nie die volle verhaal nie.

Fidji het sy man gestaan. Hulle het ʼn paar keer die vaste fasette oorheers en met drie Nieu-Seelandse afrigters (Vern Cotter, Darryl Gibson en Jason Ryan) wat die leisels hou is daar heelwat meer struktuur.

Hulle het nou ʼn pak voorspelers wat nie terugstaan nie en groot agterspelers wat (steeds) oor die voordeellyn kan kom.

Ja, hulle het baie strafskoppe afgestaan, veral by die afbreekpunte, maar dit bly ʼn belewenis om balvaardige voor- en agterspelers te sien speel.

Wat kan ʼn mens nou ook meer vra as om ʼn span kringetjie te sien staan nadat die eindfluitjie geblaas het en te hoor sing met die trane wat rol oor oor die monster-spelers se wange?

Die All Blacks, wat verlede week Tonga met 102-0 vermorsel het, het met 13 nuwe spelers in die opdrafspan uitgedraf.

Daar was ʼn hele paar hoogtepunte, soos die vier drieë wat die plaasvervanger-haker Dane Coles (ʼn nuwe wêreldbeste) gedruk het en die hoë intensiteit waarmee hulle gespeel het.

Jordie Barrett, Sevu Reece, Rieko Ioane en Beauden Barrett was agterlangs puik en voorlangs was Coles, Ethan Blackadder en Brodie Retallick, ná sy Japanse ekskursie, vuurwarm. Maar die span kon net nie sy stempel behoorlik afdruk nie.

Die punteverskil ten spyt, het Fidji steeds ʼn paar krake oopgerek en gewys hoe om die All Blacks te tem, drieë teen hulle te druk en hulle in foute te dwing.

Punte: All Blacks 57 (21): Drieë: Jordie Barrett, David Havili (2), George Bridge, Dane Coles (4), Will Jordan. Doelskoppe: Beauden Barrett (6).

Fidji 23 (11): Drieë: Albert Tuisue, Mesulami Kunavula, strafdrie (7 punte).  Strafdoele: Volavola (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Fiji sal waarskynlik ‘n Springbokspan met 13 veranderings klop. Ons het nie diepte in kwaliteit nie.

Jan ·

Onthou gister se All Black span is of was nie dieselfde span wat teen Tonga gespeel het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.