All Blacks klop flou Aussies weer

Nieu-Seeland se All Blacks doen die Haka op 3 July 3 teen Tonga. (Foto: MICHAEL BRADLEY / AFP)

Springbok-afrigter Jacques Nienaber sal nie slapelose nagte hê oor sy span se twee toetse oor die volgende twee weke teen ʼn Australiese span wat met byna 60% van die balbesit nooit gelyk het of hulle die All Blacks kan klop nie.

Soos in die vorige twee Bledisloe-bekerwedstryde het die sukkelende Wallabies weer die onderspit gedelf teen die manne in swart van Nieu-Seeland. In die eerste twee wedstryde het die All Blacks 33 – 25 en 57 – 22 gewen. Voor 60 000 toeskouers in Perth het hulle weer so gemaak met 38 – 21.

Die telling vlei die tuisspan want Beauden Barrett het sy skopskoene by die huis vergeet en kon net een van die ses drieë verdoel. Selfs nadat Damian McKenzie die skopwerk oorgevat het, het sake nie beter verloop nie.

Selfs nie ʼn rooi kaart vir heelagter Jordie Barrett ná 28 minute se speeltyd in die eerste helfte kon die Wallabies help nie. Hy het ʼn bal uit die lug gevang, sy voet opgelig en sy stewel se onderkant het Marika Koroibete vol in die gesig getref. Vir die 20 minute wat die All Blacks onder die aangepaste reëls met veertien man moes speel, kon die tuisspan nie ʼn enkele punt aanteken nie. In die eerste helfte het Jordie Barrett en David Havili drieë gaan druk.

Die rustydtelling was 18 – 0 in die All Blacks se guns. Eers toe die All Blacks weer voltallig was met McKenzie wat Barrett vervang het, kon Folau Fainga’a die tuisspan se eerste drie gaan druk.

Maar elke keer wat dit gelyk het of die Wallabies op die telbord inhaal, het die Nieu-Seelanders net weer die gaping vergroot. In die tweede helfte het Will Jordan, Anton Lienert-Brown, Havili en George Bridge vir die All Blacks gaan druk. Dit was eerder die Wallabies se slordige spel en wilde aangeë as die besoekers se skitterspel wat tot drieë gelei het.

Reece Hodge het twee keer gaan druk in die tweede helfte en Noah Lolesio het al die drieë verdoel om dit te laat lyk of die Wallabies darem weerstand gebied het.

Die All Blacks se oorwinning met ʼn bonuspunt beteken hulle is nou die voorlopers op die Kampioenskap se punteleer. Die Springbokke is een punt agter hulle.

Volgende Sondag speel die Bokke teen die Wallabies en die All Blacks pak Argentinië.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
piet

Ek sou nie so vinnig Australie afskryf teen die Bokke nie. Ons weet mos ons sukkel al vir jare om Australie in Australie te klop, wenne vir ons in Australie is eintlik so skaars soos hoendertande. Die feit dat die All Blacks hulle so maklik klop, beteken nie die Bokke gaan dit doen nie. Pasop.

JohanR

Moenie die Aussies weggooi. Hulle speel altyd beter teen die Springbokke.

jou gewete

Ek glo nogal Australie kan die kwota blommetjies wen en vertrou hulle sal

Niklaas

Ons moet nou net nie te gerus wees teen die Wallabies nie . Soms , in rugby , gebeur die onverwagte . Veral as die tuisspan erg onder hul media deurloop , word daai tuisspan baie gedetermineerd om te wen. Dalks kry ons Saterdag ‘n lelike verrassing van hierdie mak maar vasberade Australiërs. Niks is onmoontlik nie.