All Blacks kou klippe teen Pumas

Die All Blacks se Beauden Barrett word geduik deur die Argentynse Pumas se Santiago Medrano (regs) en Mayco Vivas tydens hul kragmeting in Buenos Aires. (Foto: Natacha Pisarenko/AP)

Daar is ʼn groot gaping tussen die All Blacks se beste en tweede beste span.

Dit is Saterdagaand in Buenos Aires bewys toe die Nieu-Seelanders met 20-16 teen die Argentynse Pumas in die Rugbykampioenskap deurgeskraap het nadat hulle rustyd met 20-9 voor was.

Waar die All Blacks sonder verskeie spelers van die Crusaders, wat in die onlangse Superrugby-eindstryd in Christchurch met die Jaguares klaargespeel het, moes klaarkom, het die Pumas 13 Jaguares ingesluit.

Dit was net die losskakel Nicolás Sánchez en die stut Juan Figallo, wat albei oorsee hul brood en botter verdien, wat nie in die Superreeks gespeel het nie.

Hulle is soos bloedbroers, hul samespel is uit die boonste rakke, daar skort niks met hul passie of al die nodige vaardighede nie.

Die All Blacks se hoofafrigter, Steve Hansen, hou dop wat op die veld gebeur tydens die All Blacks se wedstryd teen die Argentynse Pumas op 20 Julie 2019. (Foto: Natacha Pisarenko/AP)

Wat kommerwekkend vir die All Blacks was, was die spelpeil van wedstrydwenners soos Ben Smith (heelagter), Jordie Barrett (hoekom het hy vleuel gespeel?), Beauden Barrett, Aaron Smith en ʼn rits van die voorspelers.

Só gaan die All Blacks nie die Rugbykampioenskap wen nie, só kan die All Blacks hul rieme in die Wêreldbekertoernooi styfloop.

As die Pumas ook nie verskeie kanse deur hul vingers laat glip het nie, as Sánchez se korrel nie skeef was nie, as hulle in die laaste drie minute, met die All Blacks se doellyn in sig, byna onverklaarbaar nie met hul rolmale oor die doellyn vir die wendrie kon kom nie, kon hulle hul eerste oorwinning  ooit oor die Kiwi’s behaal het.

Nietemin, die Pumas pluk al hoe meer die vrugte om in die Superreeks te speel. Hulle het ysters in Pablo Matera, Agustin Creevy en Marcos Kremer en gevaarlike agterspelers in Jeromino de la Fuente, Emiliano Bofelli en Matias Moroni.

Kom ons wees eerlik, die Sanzaar-base het uit hul pad gegaan om Argentynse rugby op te hef, maar nou het hulle ʼn baie taai tameletjie: die Argentyne het hulle eintlik ʼn rat voor die oë gedraai, want hul toetsspan speel weekliks saam en skakel al hoe meer hul leemtes en swakplekke uit.

Die All Blacks se Ben Smith word geduik deur die Argentynse Pumas-skrumskakel, Felipe Ezcurra. (Foto: Natacha Pisarenko/AP)

Hou hul vordering maar dop in die Rugbykampioenskap, hou hulle maar dop later vanjaar in Japan in die WB-toernooi.

Hulle ding saam met Engeland, Frankryk, die VSA en Tonga in ʼn groep mee en as hulle nie te veel beserings opdoen nie, is hulle baie sterk in die wedloop om minstens tot die kwarteindronde deur te dring.

Aan die ander kant sal ʼn groot fout wees om die All Blacks ná net een swak vertoning af te skryf. Dalk was dit die tydige wekroep wat hulle nodig gehad het.

Hulle is nie verniet al jare lank die manteldraers van wêreldrugby nie, al gly hulle so nou en dan.

Puntemakers:

Nieu-Seeland 20 (20): Drieë: Ngani Laumape, Brodie Retallick. Doelskoppe: Beauden Barrett (2). Strafdoele: Barrett (2).

Argentinië 16 (9): Drie: Emiliano Bofelli. Doelskop: Nicolas Sánchez. Strafdoele: Sánchez (2), Bofelli.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans C ·

Uiteindelik begin kommentators en ook afrigters ook wakker skrik.Vir die eerste keer maak die All Black afrigter sy sorge bekend in die openbaar oor die feit dat hy ‘n span uit verskillende provinsies moet saamstel bekend teenoor die die Argentyne wat feitlik oor ‘n periode van drie jaar saamspeel.

Hy is ook bekommerd oor die gebrek aan kombinasies in die span.Nou wonder ‘n mens wie is die kortsigtige een in Suid Afrikaanse rugby wat nou toelaat dat die Jaquares nou in die Curriebeker se ‘first division’ meeding en die Border Bulldogs 78-12 vernietig.met 12 drieë.

Besef hul dan nie dat as die span die afdeling wen hul ‘n kans staan om die onderste span
van die Premierliga te klop en na die boonste vlak kan deurdring en hul sodoende nog beter vir Superrugby voor te berei.Word iemand betaal om die Argentyne die gunsies te bewys?

Buffel ·

Frans dink nie iemand word betaal nie soos ons weet is die SA rugby bestuur op alle vlakke nie die skerpste messe in die laai nie.

Nico K ·

Ek dink julle oordryf ‘n bietjie. Dit was nie NZ se beste span nie nie. En Argentinië het die laaste paar wêreldbekers gereeld deurgedring na die halfeindronde en is dus al lankal een van die beste in die wêreld. Ek het nie ‘n probleem dat net een Argentynse span in die superreeks speel nie. Ons soek nie spanne soos die Sunwolwes in die reeks wat net daar is om getalle vol te maak nie. Dit is buitendien die eerste keer wat die Jaquares verder as die kwarteindronde vorder. Gun dit vir hulle. Ek is nie bekommerd dat hulle nou skielik wêreldkampioene gaan word nie. Hulle was in 1987 se wêreldbeker al een van die gunstelinge. En nog nooit regtig presteer nie en sal ook nie vanjaar nie.

Frans C ·

Nico K
Hier verskil ek van jou.As ‘n mens aan enige kompetisie deelneem,neem jy deel volgens die reëls van die kompetisie.As die kompetisie bepaal dat dit plaasvind tussen provinsiale /streekspanne skryf jy nie ‘n span in wat saamgestel word uit al die provinsies van die land en in die waarheid die land se nasionale span is op 2 uitsonderings na.

In hierdie geval is dit 24 Argentynse provinsies.So behaal jy ‘n onregverdige voordeel bo
al die ander deelnemende spanne.As jy dit goedkeur kan ons netsowel vier of drie spanne saamstel uit die beste spelers van die land onder beheer van SARU en die beste
afrigters wêreldwyd kies.

So sal die nasionale afrigter Erasmus ook een van die spanne bestuur soos met dit met
die Argentyne die geval is.Dink net hoe goed ons spanne gaan wees as hul soos die Argentyne 3/4 jaar saamspeel.Ek is seker een van hulle gaan die Super 15 klokslag wen.

Ek gun die Argentyne hul plek onder die son,solank hul dit op ‘n regverdige wyse en nie op die rug en tenkoste van Suid Afrikaanse rugby doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.