All Blacks kyk na Bokke vir inspirasie

Die Springbokke het in 2019 die Webb Ellis-trofee omhoog gehou nadat hulle hul eerste wedstryd teen Nieu-Seeland verloor het. (Foto: Christophe Ena)

Ondanks hul eerste nederlaag nóg in die groepfase van ʼn Wêreldbeker-rugbytoernooi glo die All Blacks dat elke donker wolk inderdaad oor ʼn silwer randjie beskik.

En die Kiwi’s kyk na Suid-Afrika se vertoning in die 2019-skouspel om hulle tot groter hoogtes te inspireer.

“Kyk net wat het die Springbokke in 2019 gedoen – hulle het toe ook hul eerste wedstryd van die toernooi verloor,” het Jordie Barrett gesê nadat die All Blacks met 27 – 13 teen Frankryk op ʼn stampvol Stade de France die onderspit gedelf het.

Die Bokke het vier jaar gelede met 23 – 13 teen Nieu-Seeland in Jokohama vasgeval, maar ʼn paar wedstryde later het Siya Kolisi die Webb Ellis-trofee in die einste stad omhoog gehou.

“Suid-Afrika het toe waardevolle lesse geleer wat hulle in die res van die toernooi gehelp het. Ons beoog om ʼn soortgelyke pad te stap.”

Die 26-jarige agterspeler was Vrydagaand weliswaar nie deel van die aksie nie – ʼn kniebesering het beteken dat hy die wedstryd van die langs die kantlyn moes dophou – maar hy meen dat die Franse hitte ook ʼn invloed op sy span se vertoning gehad het.

Frankryk vier Damian Penaud se drie. Die Hane het die All Blacks met 27 – 13 op die Stade de France geklop. (Foto: Thomas Samson/AFP)

“Dit is baie warm in Frankryk en ons het glad nie goed by die weerstoestande aangepas nie. Ek sien terselfdertyd dat spanne wat nie met baie balbesit spog nie wedstryde wen. George Ford het byvoorbeeld 27 punte met sy skopskoen teen Argentinië aangeteken, terwyl Wallis se verdediging die knoop teen Fidji deurgehak het. Die bal is doodeenvoudig net té glibberig (vir aanvallende rugby).”

Dit is kenmerkend van All Blacks-rugby dat hulle vir die volle 80 minute speel. Selfs wanneer ʼn agterstand hulle in die gesig staar, loods hulle gereeld ʼn terugvegpoging en hul superieure fiksheid beteken dat hulle dan die wedstryd in die doodsnikke beklink.

Maar teen Suid-Afrika op Twickenham is hulle heeltemal oordonder, terwyl Frankryk nou die septer in Parys geswaai het.

Die Kiwi’s het onder die volgehoue Franse druk gevou, Antoine Dupont se span het 18 onbeantwoorde punte aangeteken en Will Jordan se geel kaart in die tweede helfte (hy het vir Damian Penaud in die lug platgetrek) was die laaste spyker in die driemalige kampioen se doodskis.

Ondanks Barrett se versekering dat die All Blacks sal verbeter, is dit nie aldag dat ʼn Nieu-Seelandse rugbyspan met ploetervertonings in twee agtereenvolgende wedstryde vorendag kom nie.

  • Die All Blacks speel Vrydag om 21:00 teen Namibië in hul tweede wedstryd van die toernooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Ek lees dat Nienaber se antwoord op ‘n vraag wat hulle gaan doen aan die swak stelskopwerk was, dat Manie Man of the Match was so dis oukei. Nou vir my is dit ‘n arrogante antwoord maar meer kommerwekkend lyk dit nie asof hy dit sien as ‘n probleemarea nie. Dit gaan nie hier oor ‘n spesifieke speler nie ENIGE speler (of dit nou Manie, Faf , Willemse of wie ookal is) wat die skopwerk doen, moet gemeet word aan die suksespersentasie van die skopwerk en in hierdie stadium is dit definitief ‘n probleem wat aangespreek moet word of Nienaber dit wil ontken/wegpraat of nie. So goed as wat die Franse se skopper is, is Vlok Cilliers steeds daar as skopafrigter. Dis vir my vreemd dat daar nie ‘n skopafrigter by die Bokke is nie want dis definitief ‘n probleemarea wat die span gaan kos wanner hulle dit die minste kan bekostig.

George ·

Nienaber weet nie wat om te se of te doen as Rassie nie inchip en praat nie.

Manie ·

Toemaar Piet, ” iemand” sal binne die volgende 2 weke seerkry en deur Pollard vervang word.

Mnr De Beer ·

Ek stem saam. Die bokke kort n skop afrigter want duidelik skop die manne nie tessun die pale nie. Nienaber moet wakker skrik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.