All Blacks looi Namibië, Franse skraap deur

Nieu-Seeland se Jordie Barrett laat waai met die bal in die wedstryd teen Namibië. (Foto: Rugby World Cup/Twitter)

Dit gebeur nie aldag in rugby dat ʼn span wat met 71-9 geklop word en 11 drieë afstaan steeds ʼn klop op die skouer kry nie.

Dit was Sondag in Tokio die geval toe die All Blacks Namibië met 71-9 in hul wedstryd in Groep B geklop het nadat hulle rustyd met 24-9 voor was.

Die Namibiërs het veral in die eerste helfte lof gekry vir die wyse waarop hulle die All Blacks ontwrig het, agter die voordeellyn vasgepen het, om besit meegeding het en die All Blacks van hul doellyn weggehou het.

Hulle was kort ná die begin tot groot vermaak van die afrigter, Phil Davies, en die duisende toeskouers met 3-0 voor ná ʼn strafdoel deur die vlugvoetige skrumskakel, Damian Stevens.

Diep in die eerste helfte was hulle met net 9-10 agter.

Maar kort voor rustyd het die damwal gebars, veral nadat ʼn hele paar Namibiese staatmakers soos Johan Deysel en PJ van Lill die veld met beserings verlaat het.

Tog het Torsten van Jaarsveld, Stevens en Tjiuee Uanivi die stang vasgebyt en die All Blacks probleme besorg.

Pluspunte vir die All Blacks was die vertoning van die senter Anton Lienert-Brown, Jordie Barrett wat ʼn goeie plaasvervanger-losskakel was en die slot Brodie Retallick wat ná  sy skouerbesering in Augustus vir 30 minute gespeel het.

Maar die negatiewe was die twee geelkaarte wat die skeidsregter, Pascal Gauzare, aan die twee stutte Nepo Laulala en Ofa Tuungafasi uitgedeel het vir skouerloop-duikslae.

Dis ʼn grys gebied, want tegnies het albei met hul skouers gelei, maar hoe anders gaan jy ʼn speler keer as hy laag afbuk?

Vir die rekordboeke: Dit was die All Blacks se 17de opeenvolgende oorwinning in ʼn Wêreldbekertoernooi sedert die kwarteindronde in 2007.

Dit was Namibië se 22ste agtereenvolgende nederlaag.

Tog moet ʼn mens ʼn lansie breek vir ʼn land wat net 28 rugbyklubs en 9 300 spelers het.

Punte: Nieu-Seeland 71 (24): Drieë: Anton Lienert-Brown (2), Sevu Reece 2, Angus Ta’avao, Ben Smith, Joe Moody, Sam Whitelock, Ben Smith, Jordie Barrett, TJ Perenara. Doelskoppe: Jordie Barrett (8).

Namibië 9 (9). Strafdoele: Damian Stevens (3).

* Frankryk het in die Kumamoto-stadion in Kumamoto tot die kwarteindronde deurgeskraap toe die Hane Tonga met 23-21 in Groep C geklop het nadat hulle rustyd met 17-7 voor was.

Dit is die negende keer dat die Franse tot die kwarteindronde sedert 1987 kon deurdring, maar hulle moes hul ondersteuners erg sooibrand gegee het.

Die Hane het in die eerste 20 minute soos ‘n WB-wenner gelyk, maar vir die volgende 60 minute nie soos ‘n span gelyk wat daar hoort nie.

Tog is hul onoorwonne in Groep C nadat hulle al drie hul wedstryde gewen het.

As hulle die dag lus vir speel (en vir 80 minute) kan hulle nog verder vorder, maar ai, as hulle die dag afskakel, is hulle uiters middelmatig.

Punte: Frankryk 23 (17): Drieë: Virimi Vakatawa, Alivereti Raka. Doelskoppe: Romain Ntamack (2). Strafdoele: Ntameck (3).

Tonga 21 (7): Drieë: Sonatane Takulua, Malietoa Hingano, Zane Kapeli. Doelskoppe: Takulua (2), Latiume Fosita.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Honderd ·

Nou ja, Vita. Ek wonder waar is die “100 punte wat die All Blacks teen Namibie sou opstapel” – volgens jou kommentaar na die Bokke vs Namibie wedstryd. Altyd so maklik om woorde soos “as” en “sou” te gebruik.

Welgedaan aan Namibie wat hul beste gedoen het. Jammer hulle kon nie drie teen die einde druk nie.

Dubbelloop ·

Ja 100, ek glo Vita gaan nou n dag vat om verskonings uit te dink waarom die AB’s nie 100 punte kon aanteken nie. Hy sal klnk soos n regte AC vol verskonings en dan glo hy homself. Jammer dat Namibiè nie beter afrigting kan kry nie. Ou snorre is so swak tot hy is gepos.

Frans C ·

Namibië het ‘n goeie afrigter maar is nie almal beroepspelers nie,maar bestaan hoofsaaklik uit amateurs wat werk en myle ver ry of oefeninge by te woon.Dit maak hul prestasie nog meer merkwaardig om vir die wêreldbeker te kwalifiseer.

Die All Blacks het maar ‘n powere eerste helfte beleef met beide hul gereelde losskakels
nie in die spel nie en Vito is nie so ver verkeerd as hy dink die All Blacks se ‘A’-span
sou wel ‘n met honderd kon gewen het.

Honderd ·

Kom ons hou by feite en of die span op die veld ‘n “sogenaamde” A-span of B-span was is irrelevant. Indien ons A- en B-span praat, moet ons dan ook vra wat sou die Bokke se A-span gemaak het? Maar ek hou by feite en die telling op die bord (soos Oom Boy Louw gese het). En dus my gevolglike vraag aan Vito (met sy/haar “as” en “sou” stellings).

Vita ·

Geen verskoning nie ,Nam het die 1 ste helfte baie goeie rugby gespeel,AB moes diep krap , die 2 de helfte was n ander storie, AB het toe gewys wat hulle kan doen,

Louis ·

Dit gaan nie daaroor of n span met 3 of 50 punte wen nie
Elke wedsryd het sy eie oomblikke en dit hoe daar punte aangeteken word
Tog is dit n gegewe dat n sterk span makliker wens teen minder goeie spanne ongeag die rede vir verskil in sterkte
Geniet die rugby en ja die span wat hulself reg voorberei en met die wil om te wen by die wedstryd opdaag, sal die WB wen

Netnog n Game ·

Hoekom teken die ALL BLACKS dan altyd die meeste punte aan? Want hulle is die BESTE!

Louis ·

@netnog n game
Elkeen is geregtig op hul mening en as joune werk vir jou…. Mooi so
Om te sê die AB teken ALTYD die meeste punte aan is nie n feit nie

Suidwester ·

Kyk my span het nou wel verloor maar ons het ons beste probeer alhoewel almal geweet het ons gaan n pak kry.
Weet nie hoekom almal altyd teen die AB is nie.
Hulle is maar net baie goed.
Wat opvallend is, is dat almal dieselfde kleur tokse aan het. Van bo tot onder net swart.
Kyk maar ander spanne se tokse.
Hoe se hulle: “eendrag maak mag.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.