All Blacks mors met Wallabies

New-Seeland se Sam Whitelock hou die Bledisloe-beker omhoog. Die All Blacks het Saterdag met die Aussies gemors. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Die Wallaby-afrigter, Dave Rennie (wat jare lank die Chiefs in die Superrugbyreeks afgerig het), het op die harde manier geleer dat jy nie ʼn All Black-rugbyspan op sy baadjie moet takseer nie.

Die Nieu-Seelanders het Saterdag in ʼn halfvol Edenpark in Auckland die Australiërs se neuse behoorlik in die grond gevryf toe hulle die tweede Bledisloe-toets (en Rugbykampioenskapstryd) met 57-22 gewen het.

Die All Blacks was rustyd met 21-15 voor en het agt drieë gedruk, hoewel dit vir langer as 20 minute gereën het.

Vooraf het Rennie gesê dat die Wallabies die All Blacks fisiek kan aandurf, asook dat hulle genoeg pyle in hul koker het om die aanslag en druk te weerstaan.

Maar nadat die All Blacks hul vorige hoogste telling van 54-34 teen die Wallabies in 2017 in Sydney oortref het, weet die Aussies opnuut hoe wyd die kloof tussen die twee spanne is.

Om die All Blacks te kan klop, moet jy hulle van jou doellyn af weghou; jy moet hulle voorlangs wurg; jy moet hulle agter die voordeellyn vaskeer en jou verdediging moet rotsvas wees.

Die Wallabies kon dit vir ʼn tweede keer in twee weke nie regkry nie.

Die All Blacks se hantering, ondersteuning, vermoë om kanse te skep en af te rond, moet die Wallabies slapelose nagte gee.

Die groot vraag is hoe die Springbokke oor ʼn paar weke teen die All Blacks sal vaar.

Die toetse sal heel waarskynlik in Australië gespeel moet word, aangesien die Nieu-Seelandse regering hul landsgrense tot in Januarie aanstaande jaar gesluit het.

Daar sal dus geen tuisveldvoordeel vir die All Blacks wees nie, maar ook nie vir die Bokke nie.

Ook sal die Bokke se wedstrydplan, wat om hul fisieke agttal, taktiese skopwerk en rotsvaste verdediging gebou is, onder die vergrootglas geplaas word.

Die Wallabies het probeer om die All Blacks fisiek aan te durf, maar hulle kon nie.

Op papier het die All Blacks gebiedsvoordeel van 62% teenoor 38% gehad, hulle het 55% besit gehad teen die Wallabies se 45%. Hulle het egter 600 m met die bal gevorder teenoor die Wallabies se 397 m, hulle het agt drieë teenoor drie gedruk en met heelwat minder duikslae gemis.

Punte: Nieu-Seeland 57 (21): Drieë: Rieko Ioane, Brodie Retallick, Ardie Savea, Codie Taylor (2), Sevu Reece, Will Jordan, David Havili. Doelskoppe: Richie Mo’unga (5), Beauden Barrett (2). Strafdoele: Damian McKenzie.

Australië 22 (15): Drieë: Andrew Kellaway (2), Tate McDermott. Doelskoppe: Noah Lolesio (2). Strafdoel: Lolesio.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Bokke sal moet opdraf teen die AB’s. Die wedstryd teen die Aussies het losgetorring en toe maak die AB’s amok, speel 7’s rugby. Bokke sal moet voor domineer en dodelik verdedig anders kry hul ook 50 +. Maar op die dag kan hul dit doen.

Frans ·

Dit is ‘n grroot telling veral as jy inagneem dat daar 2 onderskep drieë was.Die les is duidelik moenie die bal doelloos wegskop nie en vermy lang oorgooi aangee as daar nog steeds soveel verdedigers as aanvallers is.
Die Bokke moet goed skrum en veral die flanke en agsteman moet hul deel hier bring en nie soos meerkatte uit ‘n gat hul koppe op lig om te sien wat op die veld aangaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.