All Blacks nie oorgerus oor ‘nuwe Poemas’ nie, maar …

rugbychampionship (Foto sanzaar)Die dae is verby waar die All Blacks wedstryde teen die Poemas grootliks as voorbereiding vir die belangriker toetse gebruik het. Hulle weet hulle sal Saterdag moet uithaal om die ‘nuwe Poemas’ onder te kry wanneer die Rugbykampioenskap Saterdag in Hamilton voortgesit word.

Die twee oorwinnings oor die Springbokke die afgelope twee jaar en die verpligte uithaal-en-wys oorwinning van die All Blacks verlede jaar toe die Poemas hulle twee keer oor die doellyn gerolmaal het, het gemaak dat die Argentyne nou as gevaarlike teenstanders beskou word. Hulle het ook as span gegroei en drie van hulle laaste ses wedstryde in die Rugbykampioenskap gewen.

Agustin Creevy-hulle soek nou daardie één wat saam maak; ʼn oorwinning teen die All Blacks.

Dit sal nie die naweek wees nie. Die All Blacks, geoordeel aan hul vertonings vanjaar, is in ʼn ander liga as Suid-Afrika wat, al sukkelend, die laaste toets in Salta met ʼn skrale twee punte een Argentinië verloor het.

Tóé was die Poemas op tuisgrond, nou is hulle in vreemde omstandighede en voor ʼn tuisskare wat die All Blacks op die hande en stemme sal dra.

Die All Blacks gee toe dat die besoekers se voorspelers van die heel beste ter wêreld is, selfs sonder hul flank Juan Manuel Leguizamon en die slot Thomas Lavanini wat albei beseer is.

Hulle het ook ʼn agterlyn wat gapings kan prakseer en dit goed gebruik. Hulle verdediging teen die Springbokke was nie deurgaans suiwer nie, maar goed genoeg teen die gemiddelde aanvalle toe dit saak gemaak het.

Daar is ʼn effense ongemak in Nieu-Seeland oor die soms oor-fisieke benadering van Argentinië. Hulle het onder die vaandel van die Jaguares in die Superreeks ʼn reputasie as moeilikheidmakers gekry en dit kan voortgesit word teen die Kiwi’s wat twee weke gelede hard moes werk om nie hulle humeure teen die geniepsige Wallabies te verloor nie.

Creevy-hulle sou kennis daarvan geneem het; die All Blacks weet dit en sê hulle het die afgelope twee weke daaroor gepraat en daaraan gewerk om nie ingesleep te word in voorvalle nie.

Gaan die ‘nuwe Poemas’ met al hulle sterkpunte goed genoeg teen die All Blacks wees? Nieu-Seeland het uit 22 wedstryde teen die Poemas net een keer nie verloor nie. Dit was in 1985 toe hulle gelykop gespeel het.

Die tuisspan is ook in 2009 laas op tuisbodem geklop met 42 seges opeenvolgens in Nieu-Seeland.

Dit is die verlede. Die hede is net so oortuigend aan die All Blacks se kant en hulle behoort Saterdag oortuigend op die telbord te wen ná wat egter ʼn baie interessante eerste helfte kan wees.

En dis hoe die All Blacks speel …

Spanne –

Nieu-Seeland
15 Ben Smith, 14 Israel Dagg, 13 Malakai Fekitoa, 12 Ryan Crotty, 11 Julian Savea, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kapt.), 7 Sam Cane, 6 Jerome Kaino; 5 Sam Whitelock, 4 Brodie Retallick; 3 Owen Franks, 2 Dane Coles, 1 Joe Moody. Bank: 16 Codie Taylor, 17 Wyatt Crockett, 18 Charlie Faumuina, 19 Luke Romano, 20 Ardie Savea, 21 TJ Perenara, 22 Aaron Cruden, 23 Anton Lienert-Brown

Argentinië
15 Joaquin Tuculet, 14 Matthias Moroni, 13 Matias Orlando, 12 Juan Martin Hernández, 11 Santiago Cordero, 10 Nicolás Sánchez, 9 Martin Landajo, 8 Facundo Isa, 7 Javier Ortega Desio, 6 Pablo Matera, 5 Matias Alemanno, 4 Guido Petti, 3 Ramiro Herrera, 2 Agustin Creevy (kapt.), 1 Nahuel Tetaz Chaparro. Bank: 16 Julian Montoya, 17 Lucas Noguera, 18 Enrique Pieretto, 19 Mark Kremer, 20 Leonardo Senatore, 21 Tomas Cubelli, 22 Santiago Gonzalez Iglesias, 23 Ramiro Moyano.

Skeidsregter: Craig Joubert
Afskop: 09:35

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.