All Blacks nou al agt jaar amptelik die beste

Is die All Blacks die beste span van alle tye?

Seker. Dis moeilik, feitlik onmoontlik, om te betwis want hulle rekord oor die laaste agt jaar is sekerlik nog nooit deur enige ander span bereik nie – nie eens deur die Springbokke in hulle beste jare nie, hoewel sulke ranglyste op punte gebaseer toe nog nie bestaan het nie.

Die All Blacks het Donderdag presies agt jaar as die eerste span op die wêreldranglys gevier. Agt jaar, oftewel 2 922 dae, waartydens Nieu-Seeland 3 811 punte aangeteken het sedert hulle op 16 November 2009 na die boonste plek op die ranglys opgeskuif het.

In hierdie tyd het hulle 108 wedstryde gespeel en net 12 keer verloor. Dis een meer as die 11 wedstryde wat Allister Coetzee se Springbokke in ʼn raps meer as 17 maande in net 22 wedstryde verloor het.

In hierdie agt jaar het die All Blacks boonop twee keer agtereenvolgens die Wêreldbeker gewen. Die All Blacks is in 2009 op Maandag, 18 November, na die eerste plek op die ranglys “bevorder” nadat die Springbokke twee dae vantevore in Toulouse teen Frankryk met 13-20 verloor het.

In daardie stadium het die drie Sanzaarlande die eerste drie posisies beklee: Suid-Afrika met 91,70 punte, gevolg deur Nieu-Seeland (90,53) en Australië (85,57).

Suid-Afrika het twee weke later ook met 10-15 teen Ierland verloor en verder teruggesak. Hulle was toe eensklaps met meer as drie ranglyspunte agter die All Blacks.

Die gaping tussen hierdie twee spanne is nou 9,79 punte en Suid-Afrika klou, met ʼn raps meer as 1½ punte voor Skotland, nou aan die vyfde plek vas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.