All Blacks pluk die Hane se vere

Die All Blacks se jong vleuel Rieko Ioane druk sy tweede drie. (Foto Twitter@AllBlacks)

Dis darem jammer dat ʼn skeidsregter weer ʼn groot rol in die uitslag van ʼn toetswedstryd moes speel.

Toe die Engelse skeidsregter Luke Pearce Saterdag op Edenpark in Auckland die Franse slot Paul Gabrillagues in die eerste toets teen die Al Blacks met ʼn geel kaart vir ʼn hoogvat van die veld gestuur het, het die damwal gebreek.

Die oortreding het ʼn strafskop geregverdig, maar ʼn geel kaart?

Aikôna.

Die wedstryd was in die 50ste minuut nog met 11-elk gelykop, maar die Franse se moed is net daar en dan gebreek nadat die Hanse met rustyd nog met 11-8 voor was.

Die Nieu-Seelandse plaasvervangersbank, met Damian McKenzie en Ardie Savea aan die spits, het saam met die drie Barrett-broers skitterrugby gespeel. Die All Blacks het altesame agt drieë gedruk, sewe na daardie hoogvat, en met 52-11 gewen.

Kon die Franse die wedstryd gewen het?

Nee, maar nadat dit vir 50 minute ʼn taai tweestryd was, het dit ontaard in eenrigtingverkeer ‒ en só gaan jy nie All Blacks keer nie.

Ook het Pearce die All Blacks met hoogvatte en skouerlope laat wegkom en dis waaroor daar gebrom word.

Die All Blacks het toe na ʼn hoër rat oorgeskakel, besit heeltemal oorheers en langafstanddrieë gedruk waarvoor die Franse geen teenvoeter gehad het nie.

Wat kon ons uit die kragmeting leer?

Die All Blacks is steeds die beste span ter wêreld en wanneer hulle die uitklophou moet plant, doen hulle dit.

Puntemakers ‒
Nieu-Seeland  (8) 52: Drieë: Codie Taylor, Beauden Barrett, Ngani Laumape, Ben Smith, Damian McKenzie, Rieko Ioane (2), Ardie Savea. Doelskoppe: Beauden Barrett (3). Strafdoele: Beauden Barrett (2).
Frankryk (11) 11: Drie:  Remy Grosso. Strafdoele: Morgan Parra (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Wanneer twee spanne mededingend is en die een die ander nie oordonder nie,is ‘n geel of rooikaart dikwels die deurslaggewende faktor.Dit is dan nie langer ‘n mededingende wedstryd nie.Dit was ook duidelik in die eindstryd tussen die Lions en Crusaders in 2017.

Daar moet beslis na ander strafmaatreêls gekyk word om die wedstryd van eensydigheid te red.Die Franse was beslis nie 40 punte swakker as die All Blacks soos die die telling dit weergee nie.

Dalk moet die oortredende span gestraf word deur te bepaal dat oortredende span
een reserwe moet prysgee na meer as een geelkaart oortreding.Die geelkaart speler word dus vervang en kan weer na 10 minute speel maar die span verloor ‘n reserwe.

Capexit ·

Goeie idee. Dalk kan hulle iets soos die volgende oorweeg: Die geekaart speler kan die wedstryd voltooi, maar hy mag vir ten minste twee wedstryde daarna nie gekies word om weer te speel nie. ‘n Rooikaart speler mag vir die daaropvolgende twee maande nie meer speel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.