All Blacks pos Kaino, of is daar ander planne?

Jerome Kaino (Foto: All Blacks)

Is dit die einde van die pad vir die All Blacks se ysterflank Jerome Kaino, of word hy maar net reg bestuur om later in die Rugbykampioenskap op die Springbokke losgelaat te word?

Kaino, 34, se weglating ten gunste van Liam Squire uit die span vir Saterdag in die Rugbykampioenskap- en Bledisloetoets teen die Wallabies in Sydney, is een van twee verrassende wysigings wat die All Blacks se afrigter, Steve Hansen, aangebring het aan die span wat in Junie in die derde toets teen die Britse en Ierse Leeus gespeel het.

Daar is altesame ses veranderings, maar daar is geen paniek nie, want dit is eerder die regte toekomsbeplanning en spelers wat ná beserings en ‘n skorsing terugkeer.

Die keuse van die vlugvoetige Damian McKenzie (22) op heelagter in Ben Smith se plek laat die oë effens rek. Smith is nie weggelaat nie, want hy skuif regtervleuel toe in Israel Dagg se plek.

Met Jordie Barrett beseer, sal McKenzie na alle waarskynlik ook pale toe korrel. Onthou ook dat Smith binnekort ʼn ruskans van ses maande sal kry om sy loopbaan te verleng, en dus moet daar nou reeds planne vir ʼn geskikte plaasvervanger gemaak word.

Die jong Rieko Ioane speel linkervleuel, Sonny Bill Williams is terug ná sy skorsing, en is saam met Ryan Crotty die nuwe senterpaar.

Kaino, wat in 81 toetse gespeel het, nader die einde van sy loopbaan en vanjaar sal waarskynlik sy swanesang wees. Squire, wat reeds in agt toetse (vyf van die plaasvervangersbank af) gespeel het, is jonger, beweegliker en byna net so taai.

In die Wallaby-kamp moes die afrigter, Michael Cheika, weer raap en skraap nadat Dane Haylett-Petty ook beseer is. Curtis Rona, wat in Waitara in Nieu-Seeland gebore is en vir die Bulldogs in die Australiese Rugbyliga gespeel het, is in sy plek op linkervleuel nader getrek.

Wees maar verseker dat Beauden Barrett Rona se gebrek aan ervaring sal uitbuit, want hy het nog net 80 minute se Superrugby-ondervinding as vleuel vir die Force op sy kerfstok. Gooi hom aan die diepkant in en as hy kan swem, nou ja dan is sy pad uitgestippel.

Die spanne –

All Blacks: Damian McKenzie, Ben Smith, Ryan Crotty, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Beauden Barrett, Aaron Smith, Kieran Read (kaptein), Sam Cane, Liam Squire, Sam Whitelock, Brodie Retallick, Owen Franks, Codie Taylor, Joe Moody. Bank: Nathan Harris, Wyatt Crockett, Ofa Tu’ungafasi, Luke Romano, Ardie Savea, TJ Perenara, Lima Sopoaga, Anton Lienert-Brown.

Wallabies: Israel Folau, Henry Speight, Samu Kerevi, Kurtley Beale, Curtis Rona, Bernard Foley, Will Genia, Sean McMahon, Michael Hooper (kaptein), Ned Hanigan, Adam Coleman, Rory Arnold, Allan Alaalatoa, Stephen Moore, Scott Sio. Bank: Tatafu Polota-Nau, Tom Robertson, Sekope Kepu, Rob Simmons, Lopeti Timani, Nick Phipps, Reece Hodge, Tevita Kuridrani.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.