All Blacks se Cane bly in SA agter ná hy werwel in sy nek gebreek het

Sam Cane word Saterdag op die veld gestabiliseer nadat hy ʼn nekwerwel gebreek het. (Foto Twitter@SamCane7)

Sam Cane, die All Blacks se baljagter wat die skoene van Richie McCaw effektief volgestaan het, sal maande lank nie rugby kan speel nie en kan dalk selfs die Wêreldbeker-toernooi in September aanstaande jaar misloop.

Cane is in die 35ste minuut met ʼn nekbesering van die veld. Daar is later vasgestel dat hy ʼn werwel in sy nek gebreek het toe hy en Francois Louw gebots het. Hy is deur Ardie Savea vervang.

Daar is gelukkig geen senuwee-skade aan sy nek nie. Cane sal na verwagting volkome herstel en weer kan speel, maar niemand wil in dié stadium ʼn voorspelling waag oor wanneer dit sal wees nie.

Na verwagting sal hy maande buite aksie wees en kan hy moontlik die Wêreldbeker-toernooi misloop.

In die media is daar Sondag uitgebasuin dat hy sy nek “gebreek” het, maar in die Twitter-boodskap van die All Blacks se spandokter Tony Page word die feite weergee: Sam Cane het ʼn werwel in sy nek gebreek, maar gelukkig geen senuwee-skade opgedoen nie. Hy sal nie saam met die span terug Nieu-Seeland toe reis nie, maar ʼn week lank in Suid-Afrika agterbly en sal maande lank nie kan rugby speel nie.

Hy sal in die week in Suid-Afrika geopereer word om die fraktuur te herstel.

Dit was Saterdag die Chiefs se kaptein se 60ste toets.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ben ·

Sterkte Sam Cane.
Hoop jy herstel gou en goed.
Ek bid vir jou herstel.

IK ·

Sterkte en gou herstel Sam (5e par. het sy naam as ‘Same’).
Weereens ‘n bewys die uiters versigtige wyse wat iemand hanteer moet word in ongelukke. Net met uitsondering soos byv. versmoring, vuur, elektrisiteit word iemand van plek/posisie verander en dan ook met sorg indien moontlik. Ek sal graag wil sien dat basiese noodhulp verpligtend moet wees vir bestuurderslisensies. Op die myne is dit wetlik verpligtend om jou noodhulpsertifikaat jaarliks te hernu, altans so was dit 25 jaar gelede.

Johan ·

Gewoonlik is die dokters en mediese personeel by rugbywedstryde oorversigtig en word ‘n speler met ‘n nekbesering op ‘n draagbaar van die veld af gehelp. Ons het dit al hoeveel keer gesien in plaaslike wedstryde. Wat het Saterdag gebeur dat Cane self van die veld afgestap het? Wou hy self afstap? Het hy geweier om op draagbaar gelaai te word? Sal graag wil weet wat daar gebeur het?

Anoniem ·

Sterkte Sam, hoop jy herstel volkome van hierdie besering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.