All Blacks se skitter-wegspring kelder die Wallabies

(Foto lastwordonsports.com)

(Foto lastwordonsports.com)

Die tweede helfte van die eerste wedstryd in vanjaar se Rugbykampioenskap het miskien ʼn bietjie moed vir die ander spanne gegee dat die All Blacks geklop kan word. Hulle het die Wallabies 42-8 geklop na hulle rustyd al 32-3 voor was.

Die eerste helfte was briljante eenrigtingverkeer. Teen rustyd was daar reeds vier van hulle ses drieë en 32 punte op die telbord. Die Wallabies se enkele strafdoel vertel die verhaal van hoe hulle oordonder is.

Die kenmerk van die eerste helfte was die (nou al bekende) vermoë van die All Blacks om die bal lewendig te hou, in die duikslag uit te gee, en te sorg dat die bal slegs uitgegee word as die ontvanger in ʼn beter posisie is.

Vaardigheid en kontinuïteit is die grondslag vir die All Blacks se sukses – en hier het die baldraende losvoorspelers en trouens die hele pak uitgeblink.

Dit is aangevul deur die manier waarop hulle by die afbreekpunt na hul besit omgesien en wanneer dit moontlik was blitsig agterlyn toe laat loop het, en ook die geweldige tempo waarteen hulle veral in die eerste helfte gespeel het.

Dit klink als so eenvoudig, maar dit is met hierdie basiese aspekte waar Nieu-Seeland die ander lande voor is – en Saterdag vir heerlike rugby gesorg het met ʼn vertoning wat wys hoe die spel gespeel moet word.

Hulle het ná rustyd effens los geraak, en die Wallabies het ook met meer struktuur op die verdediging die groot bresse voorkom. Tog was die All Blacks ook in dié helfte steeds stukke beter as die Aussies wat darem na 75 minute ʼn troosdrie gedruk het.

Húlle dissipline het by die afbreekpunte gelol. Australië is te dikwels gestraf vir van die kant af inkom, nie hul eie gewig dra nie en die bal vashou. Dit kan in ʼn groot mate toegeskryf word aan die effektiwiteit van die All Blacks.

Die Wallabies se besit was gevolglik nie wat hulle wou gehad het nie, en hulle hartseer-lynstaan het verder in die All Blacks se hande gespeel.

Dit sal moeilik wees om hulle te klop, maar nie onmoontlik nie. Allister Coetzee se taktiese ingesteldheid teen die All Blacks sal deeglik beproef word.

Puntemakers –

Australië (3) 8: Drie: Nick Phipps. Strafdoel: Bernard Foley.
Nieu-Seeland (32) 42:
Drieë: Ryan Crotty, Beauden Barrett, Jerome Kaino, Waisake Naholo, Dane Coles, Julian Savea. Doelskoppe: Barrett 3. Strafdoele: Barrett 2.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

So AB, dan Wallabies, dan enigeen van SA of Pumas en dan die vierde plek in hierdie jaar se kompetisie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.