All Blacks skakel oor na hoër rat teen Wallabies

Aaron Smith van die All Blacks (17 Augustus 2019) (Foto: Brett Phibbs/SNPA via AP)

Daar is min dinge gevaarliker as ʼn gewonde dier. Dit het die Wallabies Saterdag op Edenpark in Auckland tot hul spyt agtergekom toe hulle met 36-0 deur die All Blacks in die tweede Bledisloe-rugbytoets verniel is.

Die All Blacks was rustyd reeds met 17-0 voor en het wraak geneem nadat hulle verlede Saterdag in Perth met 47-26 deur die Wallabies in die Rugbykampioenskap geklop is.

Dit was slegs die agtste keer dat die Wallabies nie enige punte in ʼn toets teen die All Blacks kon aanteken nie en dit het laas in 2012 gebeur.

Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, was reg toe hy ná verlede Saterdag se All Blacks-nederlaag gesê het daar is nie iets soos ’n swak Nieu-Seelandse span nie, ondanks tydelike terugslae. Die Bokke het wel gewys dat daar swak plekke in hul mondering is, dat hulle onder druk ook foute begaan, nie daarvan hou wanneer jy in hul gesigte boer nie en wanneer hulle voorlangs geboelie word.

Dis die wenresep wanneer die spanne mekaar in Yokohama in die Wêreldbekertoernooi pak. Kom ons wees eerlik, hulle het nie goed in die Rugbykampioenskap teen die Wallabies, Argentynse Poemas en Springbokke gespeel nie.

Maar die nederlaag teen die Wallabies en gelykopuitslag teen die Bokke in Wellington was net die regte medisyne, want dit het die afrigter, Steve Hansen, die eerste keer in langer as ʼn dekade genoop om die snoeiskêr uit te haal. Hy was in sy 100ste toets in die bestuurstoel onder druk, hy moes van sy getroue volgelinge soos Ben Smith, Rieko Ioane en Owen Franks op die rak plaas.

Hul plaasvervangers, Sevu Reece, George Bridge en Nepo Laulala het die kans aangegryp en kan maar hulle mates laat neem vir die All Blacks se Wêreldbeker-groep.

Dan het die vennootskap van Beauden Barrett (heelagter) en Richie Mo’unga (losskakel) die eerste keer gekliek, die veteraan Sonny Bill Williams het baie waarde in die middelveld toegevoeg en die woelwater-skrumskakel Aaron Smith was op sy beste.

Voorlangs het die All Blacks die Wallabies poegaai geskrum en selfs toe die haker dan Coles met ʼn geel kaart gestraf is, het hulle dit reggekry om met sewe voorspelers die Wallabies van die bal af te stoot.

Die groot vraag is of die Wallabies werklik so swak was of was die All Blacks werklik so goed? Jy hoef nie verder te soek as die rekordboeke nie, wat aandui dat die All Blacks die Bledisloebeker reeds 19 opeenvolgende keer gewen en in 1986 laas in Auckland teen die Wallabies verloor het.

Kan ʼn week in rugby so ʼn groot verskil maak? Beslis as jy ʼn All Black-span met die rug teen die muur is.

Punte: Nieu-Seeland 36 (17): Drieë: Richie Mo’unga, Aaron Smith, Sonny Bill Williams, Sevu Reece, George Bridge. Doelskoppe: Mo’unga (3), Beauden Barrett. Strafdoel: Mo’unga.

Australië 0 (0).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Valerie ·

Ja, pragtig! Daar is nie ‘n span in die ABs se liga nie.

Niklaas ·

Nee kyk , ek het geweet dat n slagting wag op die Wallabies. Na n verlies in Perth. AB span en bestuur is trots en hou nie van verloor. AUS se span het dit tot hul verdriet agtergekom vandag.

Piesang ·

Lekker man, lekker!!! Ek pes die Wallabies, veral ná die Israel Folao sage en hierdie telling gee my groot plesier! Neem kennis bokke die AB’s is op ‘n ernstige missie.

Appeljan ·

Altyd lekker om aussie te sien bloei. Die AB’S het nie speletjies gespeel nie en die aussie oordentlik geslag. Bokke sal maar moet reg wees.

TN ·

Die Wallabies het op 10 Augustus seker gemaak dat NZ die RWC vir ‘n derde agtereenvolgende keer gaan wen !

Dr. Rugby ·

Die rubriekskrywer vergeet gerieflikheidshalwe dat die All-Blacks verlede week met 14 spelers moes klaarkom. Natuurlik het min taktiese planne gewerk. Hierdie week het hulle gewys dat hulle op n ander vlak is.

Frans C ·

@TN
Sien wat jy bedoel,dink egter die beker gaan na Noordelike halfrond toe en dat die wenner soos in 2003 uit ‘n sesnasiespan gaan kom,Engeland,Ierland, Wales sterkste aanspraakmakers.Frankryk het Scotland geklop 32-3.

Die Noordelike halfrondspanne skrum oor die algemeen beter as Suidelike halfrond
en dit is waar dit gewen gaan word.

Derick ·

Kan die mense my kwalik neem as ek die ALL BLACKS ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.