All Blacks speel Leeus voorlangs kis

Dit is afgesaag om dit te sê, maar jy het die bal nodig om mee te speel. Dit het die Britse en Ierse Leeus nie gehad nie, en hulle het Saterdag die eerste toets teen die All Blacks op Edenpark met 15-30 verloor.

Daar is verwag die stryd tussen die voorspelers van die Leeus en die agterspelers van die All Blacks sou die uitslag beslis. Dit was toe nie so nie.

Die All Blacks het voorlangs totaal oorheers. Die Leeus het goeie druk op hulle agterlyn geplaas en ʼn hele paar keer is die tuisspan gedwing om die lyn met grondskoppies te probeer breek, waarvan verskeie teen die Leeus se bene vas was.

Die All Blacks het effens van hul gewone strategie afgewyk en keer op keer met hulle voorspelers met kort aangee druk toegepas. Wonderlike balbeheer, pragtige ondersteuning. Die tuisspan het byvoorbeeld 195 aangeë gemaak; die Leeus 106.

Die toerspan moes vir ʼn vale walgooi, en hulle sowat 155 duikslae het hulle uitgeput, met die All Blacks wat meedoënloos gedryf en gewerk het.

Die besit is met 64 persent teen 36 deur die Kiwi’s oorheers. Die bal is weggehou van die Leeus se agterlyn wat net ʼn paar keer gevaarlik gelyk en dit toe met swak afronding ongedaan gemaak het.

Tog is die drie van die toets, en moontlik die toetsdrie van die jaar, deur die Leeus se Sean O’Brien gedruk nadat Liam Williams uit sy eie 22 weggebreek het en die tussenspel van die agterspelers 90 meter deur die flank afgerond is.

Ná 54 minute was die telling slegs 13-8, maar reeds nadat speeltyd verby was, het dit op 30-8 gestaan voordat die Leeus van die fasespel na sowat 82 minute ʼn troosdrie gekry het.

Ook wat gebiedsvoordeel betref, was die Leeus met minder as 40 persent meestal op die agtervoet.

Die 20-jarige Rieko Ioane het in sy eerste begintoets twee keer gaan druk – die tweede ná ʼn opvolgskop wat agter reggespring het terwyl die Leeus onder die bal geweifel het; die eerste ná ʼn agterlynbeweging nadat die Leeus in die skrum verwoes is.

Puntemakers –

Nieu-Seeland (13) 30: Drieë: Codie Taylor, Rieko Ioane 2. Doelskoppe: Beauden Barrett 3. Strafdoel: Barrett 3.
Britse en Ierse Leeus (8) 15: Drieë: Sean O’Brien, Rhys Webb. Doelskop: Owen Farrell. Strafdoel: Farrell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Robert ·

Wel Wim, dis nie wat die kaptein van die AB’s gesê het nie. Hy het genoem dat die verdediging van die BIL hulle baie getem het. So ek dink jou opskrif is verkeerd.

Patriot ·

Die All Blacks is in ‘n klas van hul eie. Die bleekbene het goeie weerstand gebied en hul eerste drie was skitterend maar die draers van die Silwervaring was net te goed vir hulle. Nietemin, as skouspel was dit ‘n baie goeie, harde toetswedstryd en ‘n lus om te aanskou. Ek kyk veel eerder na die All Blacks se wedstryde as na Suid-Afrika sin.

Frans C ·

Ddat die wedstryd het maar weereens bewys dat die All Blacks die span is wat die maklikste aanpas by wat die teenstander ook al op die tafel sit.

Anders as die wedstryde wat hul gewen het kon hul voorspelers voorlangs nie domineer nie,en hul gevaarlike agterlyn aan die gang kry nie,behalwe een skitterende drie is daar nie veel van hul gesien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.