All Blacks spoel oor Fidji

Nieu-Seeland se Samisoni Taukei’aho laat spat met die bal tydens die wedstryd teen Fidji. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Daar bestaan nie werklik iets soos ʼn swak All Blacks-span nie.

Dit het die Nieu-Seelanders Saterdag in Hamilton weer bewys toe hulle die tweede toets teen Fidji met 60-13 gewen het nadat hulle rustyd met 29-6 voor was.

Nadat die All Blacks verlede week se eerste toets in Dunedin met 57-23 gewen het, is daar ʼn paar vrae gevra en kritiek gelewer oor die Nieu-Seelanders se spelpeil, intensiteit en vermoë om druk te weerstaan.

Maar Saterdag was dit die All Blacks van ouds, waar hulle Fidji voorlangs gewurg, agterlangs geslaan en nege drieë gedruk het.

Die All Blacks het besit oorheers (60% teenoor 40%) en 344 m met die bal gevorder teenoor Fidji se 196 m. Hulle was met 69 van hul 79 duikslae in die kol, terwyl Fidji net met 93 van hul 123 duikslae kon slaag.

Die All Blacks het die Fidjiane onder groot druk geplaas wat daartoe gelei het dat Fidji 14 strafskoppe afgestaan het, meestal by die afbreekpunte.

Boonop het dit tot ʼn geel kaart aan die kaptein, Leone Nakarawa, gelei nadat die span herhaaldelik oortree het.

Waar die All Blacks verlede week drie drieë afgestaan het, kon Fidji Saterdag net een drie ná ʼn rolmaalbeweging druk.

Die All Blacks het die Fidjiane in die skrums oorheers. Hulle het Fidji se lynstaantekens ontrafel en hul verdediging, hantering, ondersteuning en besluitneming was voor- en agterlangs beter.

Damian McKenzie, Sevu Reece, David Havili, Richie Mo’unga en Aaron Smith was agterlangs die planmakers, terwyl Scott Barrett, Sam Whitelock, Ardie Savea en Luke Jacobson voorlangs die bresse geslaan het.

Punte: Nieu-Seeland 60 (29): Drieë: Sevu Reece (3), Ardie Savea, Will Jordan, Rieko Ioane, Shannon Frizell, Samisoni Taukei’aho (2). Doelskoppe: Richie Mo’unga (5), Beauden Barrett. Strafdoel: Mo’unga.

Fidji: 13 (6): Drie: Peni Ravai. Doelskop: Ben Volavola. Strafdoele: Volavola (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.