All Blacks steeds te goed vir beter Wallabies

all blacksDit was moeiliker as in verlede week se eerste toets, maar die All Blacks het in geen stadium gelyk of hulle sou verloor nie en Saterdag 29-9 teen Australië in Wellington gewen.

Die Wallabies was tot sewe minute na rustyd, ten minste op die telbord waar hulle net 15-9 agter was, nog in die prentjie maar het geen punte in die tweede helfte aangeteken nie.

Die Bledisloebeker was, soos verlede week, ook in hierdie wedstryd in die Rugbykampioenskap op die spel. Met die twee oorwinnings en net een wat nog in vanjaar se Bledisloereeks oorbly, het Nieu-Seeland nou die laaste 14 keer die gesogte trofee tussen die twee Australasiese lande gewen.

Die Wallabies was in vele opsigte stukke beter as verlede week toe hulle 42-8 kafgedraf is. Die All Blacks was miskien ʼn stukkie swakker, of miskien het die beter verdedigingsdruk en inklimrugby van die Wallabies dit so laat lyk. Hulle moes in elk geval harder werk.

Die Wallabies se verdediging het nie tekortgeskiet aan aggressie en vasberadenheid nie, maar daar is nog heelwat werk wat aan die strukturele aspekte gedoen moet word.

Ondanks die All Blacks wat, veral in die eerste helfte, nie die gladde hanteerwerk van verlede week uitgestal het nie met ʼn hele paar aangeë wat staan-staan en ʼn paar keer aan die hoë kant was, het hulle nog oorgenoeg bresse geslaan.

Hulle het ook twee prag-drieë in die eerste helfte gedruk met die gawe van vaardigheid en oordeel wat weer as doelpunt vir ander spanne moet dien.

Die Wallabies se skrums was redelik, maar hulle lynstane, hoewel beter, was egter nie goed nie. Hulle het twee keer vroeg in die wedstryd hul lynstaan verloor en was te dikwels skuldig aan wilde klapballe.

Die All Blacks, daarenteen, het hierdie faset ʼn paar keer gebruik om lang ente veld te wen en die uitgestrekte verdedigingslyn van die Wallabies anders laat dink.

Rustyd was die telling 15-6 en dit het kort daarna 15-9 geword. Die Wallabies het seker nog gehoop, maar toe het nog twee juweel-drieë van die All Blacks gevolg. Op 29-9 was dit neusie-verby vir enige moontlike verrassing – nie dat dit ooit werklik na ʼn moontlikheid gelyk het nie.

Die All Blacks het al voor die vierde drie in die 62ste minuut heeltemal beheer begin oorneem en in die Wallabies se kwartgebied geboer. Deurkomkans was egter min teen die vasberade verdediging maar daar was tog drie of vier geleenthede waar die goeie hanteerwerk, met voor- en agterspelers wat saam aangeval het, waar nóg drieë net-net verhoed is.

Ironies genoeg was die Aussies wat twee minute voor die toeter amper gedruk maar die bal verloor het en toe ondanks druk nie kon deurkom nie.

Puntemakers –

Nieu-Seeland (15) 29: Drieë: Israel Dagg, Sam Cane, Julian Savea. Doelskoppe: Beauden Barret 3. Strafdoel: Barrett.
Australië (9) 9: Strafdoele: Bernard Foley 2, Reece Hodges.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.