All Blacks straf die Poemas vir elke klein foutjie

Dit moet die teenstanders maar altyd weet: Die All Blacks sal hulle vir die geringste foutjie straf.

Dit is die les wat Argentinië Saterdagoggend in Nelson geleer het toe Nieu-Seeland klippe teen hulle gekou het maar elke krieseltjie los besit gebruik het. Nieu-seeland het hierdie toets in die Rugbykampioenskap met 46-24 gewen.

Drie baie goeie drieë deur die Argentyne was nie genoeg nie en die All Blacks se ses, die een reg teen die einde, het aan hulle ʼn bonuspunt besorg. Dit was opvallend dat Nieu-Seeland, elke keer as die Poemas punte aanteken en binne trefafstand kom, feitlik dadelik weer gaan druk het.

Argentinië was statisties in feitlik elke faset die beste daaraan toe ‒ gebied, besit, afbreekpunte, omkeerbesit, minder duikslae … maar die skrum was nie goed nie. Soos hulle afrigter Mario Ledesma vooraf gesê het, moet hulle dit reg maak om werklik ʼn krag te word.

In die eerste helfte het die Poemas ook nege strafskoppe afgestaan, en ná rustyd net twee. Daardie eina-dissipline het hul vroeë ritme ʼn paar keer gebreek.

En dan die foute. Nicolás Sánchez, wat verder baie goed gespeel het, het twee keer die bal veld-op geskop, en die All Blacks het twee keer van hul eie gebid af gaan druk. Hulle het twee drieë gedruk toe die Argentyne na ʼn aantal fases hanteerfoute gemaak het, en het die man-oor soos altyd skitterend uitgebuit toe die geleentheid daar was.

Vir die All Blacks was daar ook twee vroeë terugslae toe hulle hul uithaler-slot Brodie Retallick met ʼn skouerbesering verloor het wat hom dalk lank van die veld sal hou; en hulle senter Ngani Laumape sy knie beseer het. Sy plaasvervanger Anton Lienert-Brown was egter een van die beste spelers op die veld na hy opgekom het.

En goed soos die Argentyne was, moet jy nie vergeet dat hierdie Nieu-Seelandse span nie naastenby hul beste waas nie en dat hulle deur hierdie twee beserings ontwrig is.

Puntemakers ‒
Nieu-Seeland
(18) 46: Drieë: Nehe Milner-Skudder, TJ Perenara (2), Kieran Read, Shannon Frizell, Jack Goodhue. Doelskoppe: Richie Mo’unga (5). Strafdoele: Richie Mo’unga (2).
Argentinië (7) 24 : Drieë: Ramiro Moyano, Nicolas Sanchez, Emiliano Boffelli. Doelskoppe: Nicolás Sánchez (3). Strafdoele: Sánchez.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Attie ·

Volgende week gaan die All Blacks straf uitdeel. Sien eintlik uit daarna dat die bontebokke, Rassie en bankrot SARU besef hoe vrot hulle regtig is – kwotas en al.

Johan ·

Kan nie wag vir All Blacks. Trap die bokkies. Skande .gelukkig dra ek n swart trui met Trots

Wim van der Berg ·

Dankie vir die navraag, Reza.
In Afrikaans verwys ons na Argentinie as die Poemas en na die span van Mpumalanga as die Pumas.
Groetnis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.