All Blacks straf ongedissiplineerde Wallabies

(Foto: Michael Bradley/AFP)

Die spook van Edenpark in Auckland loop steeds.

Die All Blacks het Saterdag hul bepalings in vanjaar se Rugbykampioenskap afgesluit met ʼn oorwinning van 40-14 oor die Wallabies nadat hulle rustyd met 17-0 voor was.

Die All Blacks was vyf ligapunte voor die Springbokke met ʼn positiewe punteverskil van 67 punte, wat beteken dat die Bokke later Saterdagmiddag in Durban die Argentynse Pumas met minstens 40 punte moet klop om as vanjaar se kampioen gekroon te word.

Die All Blacks het laas teen die Franse in 1994 op Edenpark verloor en het sedertdien 42 teenstanders uitgestof en net twee keer gelykop (teen die Springbokke in 1994 en die Britse en Ierse Leeus in 2017) gespeel.

Dis nogal ironies dat die All Blacks op dié trotse vertoningslys kon voortbou, want hulle is boonop in Junie twee keer deur die Iere in Nieu-Seeland geklop.

Desnieteenstaande was Saterdag se punteverskil tussen die All Blacks en Wallabies 26 punte, maar was die All Blacks soveel beter, het hulle so oorheers?

Die Wallabies was weer hul eie grootste vyande toe Jed Hollaway en Dave Porecki geel kaarte gekry het. Dit was die Wallabies se agtste geel kaart in vanjaar se Rugbykampioenskap en hulle het ook ʼn magdom strafskoppe afgestaan.

Kom ons wees eerlik, behalwe die twee Barrett-broers, Beauden en Jordie (agterlangs), en dalk Sam Whitelock, Brodie Retallick en Ardie Savea (voorlangs) hoeveel van die huidige spelers sal in All Black-spanne van weleer kan instap?

Maar gee die All Blacks darem ook ʼn bietjie krediet, want hulle het Saterdag gedoen wat van hulle verwag is, ondanks hul oënskynlike tekortkominge.

Punte: Nieu-Seeland 40 (17): Drieë: Will Jordan, Sam Whitelock, Codie Taylor, Samisoni Taukei’aho, strafdrie (7 punte). Doelskoppe: Richie Mo’unga (2). Strafdoele: Mo’unga (3).

Australië 14 (0): Drieë: Folau Fainga’a, Jordan Petaia. Doelskoppe, Bernard Foley, Reece Hodge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Die span van Aus kon die A B’s die vorige naweek geklop het. Ongelukkig het Foley met die bal in die hand , net te veel tyd gemors wat gelei het tot die A B skrum en Jordie se drie. Die skeidsregter was heeltemal korrek , al word daar vreeslik getjank daaroor. Maar dit het tot gevolg dat die Springbokke se kanse om die toernooi beker te wen , besonder skraal was. Sulke dinge gebeur maar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.