All Blacks swaai dalk ná die naweek nie meer die septer

Jy sal baie goed moet speel om die All Blacks te keer. Foto: Facebook.

Maandagoggend kan wêreldrugby met ’n splinternuwe nommereenspan spog. Mits die All Blacks natuurlik teen die Wallabies in Perth verloor en Wallis met Engeland kan afreken.

Die Nieu-Seelanders sal waarskynlik steeds as die voorste rugbyland gereken word, maak nie saak of Wallis hulle kan onttroon nie. Want net soos een swaeltjie nie die somer maak nie, so maak ’n gelykop uitslag en ’n moontlike nederlaag jou nie ’n swakker span nie.

Kieran Read se span het die afgelope paar jaar wêreldrugby oorheers en sal steeds die gunsteling wees om die Wêreldbeker-rugbytoernooi later vanjaar te wen; maak nie saak waar hulle hulself op die punteleer bevind nie.

Maar indien die amperse onmoontlike gebeur en die All Blacks swaai nie meer die septer op die wêreldranglys nie, sal dit een ding vir die res van die internasionale spanne beteken: Nes Superman sy Kryptonite het, só is die Kiwi’s ook net menslik en kan geklop word.

Dit is nou as jy hulle natuurlik kan aanvat en onder druk kan sit.

Die All Blacks is tans 1.58 ranglyspunte bó Wallis op die punteleer. Indien hulle Saterdag teen Australië verloor, sal hulle 1.66 punte afstaan. Maar dan moet Wallis óf met Engeland afreken, óf gelykop teen hulle speel.

Vir die naweek se Perth-toets maak Scott Barrett sy terugkeer op slot vir die Kiwi’s, terwyl Aaron Smith weer die nommernegetrui sal dra.

All Blacks: Beauden Barrett (heelagter), Ben Smith (regtervleuel), Jack Goodhue (buitesenter), Anton Lienert-Brown (binnesenter), Rieko Ioane (linkervleuel), Richie Mo’unga (losskakel), Aaron Smith (skrumskakel), Kieran Read (kaptein en agtsteman), Sam Cane (flank), Ardie Savea (flank), Sam Whitelock (slot), Scott Barrett (slot), Owen Franks (stut), Dane Coles (haker), Joe Moody (stut). Plaasvervangers: Codie Taylor, Atu Moli, Angus Ta’avao, Patrick Tuipulotu, Matt Todd, TJ Perenara, Ngani Laumape, George Bridge.

  • Wêreldranglys:
  1. Nieu-Seeland 91.54
  2. Wallis 89.96
  3. Ierland 88.69
  4. Suid-Afrika 86.30
  5. Engeland 86.27
  6. Australië 81.91
  7. Skotland 80.17
  8. Frankryk 79.42
  9. Fidji 76.98

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

James ·

Moenie te gou praat en op loop gaan nie.
Wag tot die wedstryd verby is voordat jy iets waardevols kan se.
Ek hoop ons wen maar dis al.
Enige iets kan gebeur.
Die wedstryd is nog nie gespeel nie.

Frans C ·

Sal werklik ‘n verrassing wees as Wallabies die All Blacks klop.

Derick ·

As mens so na die ranglys kyk moet SA maar oppas vir no 1,2,3 en 5.
Al die spanne staan n goeie kans vir die WC.

Eddy ·

Mens kan nooit die Wallabies afskryf nie.Dalk pluk Michael Cheika n Haas uit die hoed uit.Juis noudat Bokke gelyk op gespeel het met All blacks gee dit Wallabies n baken van hoop.Maar aan anderkant All Blacks is nie verniet 3 malige wereldkampioene nie en nr1 span nie en het nog genoeg skietgoed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.