All Blacks, Wallabies gedwing om te verander

Twee noodgedwonge veranderinge vir die All Blacks met gepaardgaande posisionele skuiwe, en twee nuwe stutte en ook ʼn beseringsvervanging met ʼn posisionele skuif vir die Wallabies.

Dit is die kenmerke van dié twee spanne wat Saterdag op Edenpark in Auckland in die tweede ronde in die Rugbykampioenskap teen mekaar speel.

Nieu-Seeland kon hul uitblinksenter Ryan Crotty weens harsingskudding nie oorweeg nie. Hy word deur die opwindende Ngani Laumape vervang; en Waisake Naholo skuif van regtervleuel na die linkerkant toe waar Rieko Ioane ook weens ʼn besering nie kan speel nie.

Ben Smith skuif nou vleuel toe en sy plek op heelagter sal deur Jordie Barrett beman word.

Die Wallabies, hoewel hulle die All Blacks verlede Saterdag in die eerste helfte met veral goeie verdediging vasgevat het, het egter nie aan hul slotte of haker verander nadat die All Blacks sewe van hul lynstaanballe gesteel het nie.

Hulle het nietemin die skrum vir Saterdag probeer versterk. Sekope Kepu speel vaskop in die plek van Alan Alaatoa en Scott Sio, wat van sy besering herstel het, is op loskop gekies.

Agterlangs skuif die vleuel Dane Haylett-Petty na heelagter in die plek van Israel Folau, wat ʼn enkelbesering het. Haylett-Petty se plek op vleuel word ingeneem deur John Maddocks, wat verlede week goed vertoon het toe hy in sy eerste toets as plaasvervanger vir Folau op die veld gestuur is.

Die twee spanne ‒

Nieu-Seeland
15 Jordie Barrett, 14 Ben Smith, 13 Jack Goodhue, 12 Ngani Laumape, 11 Waisake Naholo, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kaptein), 7 Sam Cane, 6 Liam Squire, 5 Sam Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody. Bank: 16 Nathan Harris, 17 Karl Tu’inukuafe, 18 Ofa Tu’ungafasi, 19 Scott Barrett, 20 Ardie Savea, 21 TJ Perenara, 22 Damian McKenzie, 23 Anton Lienert-Brown.

Australië
15 Dane Haylett-Petty, 14 Jack Maddocks, 13 Reece Hodge, 12 Kurtley Beale, 11 Marika Koroibete, 10 Bernard Foley, 9 Will Genia, 8 David Pocock, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Lukhan Tui, 5 Adam Coleman, 4 Izack Rodda, 3 Allan Alaalatoa, 2 Tatafu Polota-Nau, 1 Scott Sio. Bank: 16 Folau Fainga’a, 17 Tom Robertson, 18 Sekope Kepu, 19 Rob Simmons, 20 Pete Samu, 21 Nick Phipps, 22 Matt Toomua, 23 Tom Banks.

Afskop: Saterdag 09:35

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.