All Blacks wen ‘n taai stryd teen die Wallabies

Die All Blacks het vandag die Bledisloebeker behou toe hulle die Wallabies in Wellington met 27-16 geklop het. Die rustydtelling was 15-6 in die guns van die Nieu-Seelanders.

Hoewel die wenners en verloorders van verlede week se 47-29-slagting vandag onveranderd gebly het, is die telling ’n aanduiding van hoeveel beter die Wallabies in vandag se Rugbykampioenskap-kragmeting gevaar het om die All Blacks van punte ontneem.

Terwyl die manne in swart laas week ses keer die wit lyn oorgesteek het, kon hulle dit vandag net twee keer doen. Die geniale Ben Smith, wat laas week ’n driekuns behaal het, het albei die drieë gedruk. Israel Folau kon darem een onderskepdrie vir Australië druk.

Tom Taylor, wat in hierdie wedstryd sy buiging in die gesogte losskakelposisie vir die All Blacks gemaak het, het met ’n skaflike ses uit sy nege pogings pale toe geslaag.

Die eerste helfte het meer na ’n tennisskouspel as ’n rugbywedstryd gelyk. Albei spanne het die opponent met taktiese skoppe probeer uitoorlê.

Nadat die Aussies aanvanklik die botoon gevoer het wat gebiedsvoordeel en balbesit betref en Christian Leali’ifano met twee strafskoppe geslaag het, het die All Blacks geleidelik weer die oorhand begin kry. Smith het in die hoekie oorgeduik nadat Steven Luatua die verdedigers ingetrek en die bal na hom gestuur het . Tom Taylor het sy span vir die eerste keer laat voorloop met sy doelskop.

Taylor het vlak voor rustyd nog ’n strafskop oorgeskop voordat Smith met speeltyd reeds verstreke sy tweede drie gaan druk het. Luatua was weer die spelskepper en sy kraglopie het die Wallaby-verdedigers oorhoops gehad. Nadat hy platgeduik is, het die All Blacks bloot die bal wyd laat loop en hul numeriese voordeel gebruik sodat Smith kon afrond.  Taylor het die doelskop gemis en sy skoprekord vir die eerste helfte op ’n effe teleurstellende twee uit vyf te staan gebring.

Die All Blacks het alle fasette in die tweede helfte beheer. Hul skrumvertoning het die Aussies laat les opsê en strafskoppe afstaan terwyl hulle ook telkens die Wallabies van lynstaanballe beroof het.

Taylor het drie strafskoppe, waarvan een vanuit sy eie halfgebied was, deur die pale gejaag en Leali’ifano een toe Folau gaan druk het. Hy het ’n aangee deur Ma’a Nonu uit die lug gegaps, vir Israel Dagg gesystap en rieme neergelê doellyn toe. Leali’ifano het die telling ’n respektabele 24-16 met sy doelskop gemaak, waarna Taylor die laaste punte van die wedstryd met ’n strafdoel aangeteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.