All Blacks wil geen kanse voor Bokke waag

Dis nie aldag dat die All Blacks-rugbyspan met die rug teen die muur is nie, of so kom dit altans voor.

Dit is waarskynlik die grootste rede waarom die afrigter, Steve Hansen, nie wil waag nie wanneer die All Blacks aanstaande Saterdag sy voorlaaste wedstryd in vanjaar se Rugbykampioenskap teen Argentinië in Buenos Aires en die week daarna teen Suid-Afrika op Loftus Versfeld speel.

Die kaarte is verlede Saterdag in Wellington vir die All Blacks deurmekaar gekrap toe die Bokke hulle met 36-34 geklop het. Die All Blacks (16 punte) is steeds in die binnebaan om weer die reeks te wen, maar hulle sal een van hul twee oorblywende wedstryde moet wen om seker te maak hulle word vanjaar (weer) as kampioen gekroon.

Hansen het verlede jaar, toe die All Blacks reeds die reeks in die sakkie gehad het, ʼn hele paar sleutelspelers soos Brodie Retallick, Sam Whitelock en Sam Cane teen die Poemas laat rus voordat hulle die Springbokke op Nuweland aangedurf het.

Die All Blacks het die Poemas steeds met 36-15 geklop, maar ʼn veel gedugter Argentynse span wag nou op hulle.

Dan moet hulle die lang reis (vlugflouheid en tydverskil) na Suid-Afrika aandurf waar ʼn selfversekerde Springbokspan in ʼn volgepakte Loftus Versveld op ’n sweetwarm Hoëveldse agtermiddag op hulle wag.

Dis hoekom net die kaptein, Kieran Read, ʼn blaaskans teen die Poemas kry, want Hansen wil teen elke prys voorkom dat die agterdeur vir die Bokke (10 punte) oopgehou word om uit te glip, mits hulle natuurlik die Wallabies in Port Elizabeth sou klop.

Die All Blacks het verlede jaar op Nuweland met 25-24 teen die Bokke deurgeskraap nadat hulle die Poemas die vorige week aangedurf het.

Ai, wat net een oorwinning (of is dit nou ʼn neerlaag?) kan doen!

Die All Blacks se toergroep ‒

Voorspelers: Liam Coltman, Nathan Harris, Codie Taylor, Owen Franks, Tim Perry, Angus Ta’avao, Karl Tu’inukuafe, Ofa Tu’ungafasi, Scott Barrett, Patrick Tuipulotu, Sam Whitelock, Sam Cane, Vaea Fifita, Shannon Frizell, Jackson Hemopo, Kieran Read (nie beskikbaar vir die Argentynse toets nie), Ardie Savea, Luke Whitelock.
Agterspelers: TJ Perenara, Aaron Smith, Te Toiroa Tahuriorangi, Beauden Barrett, Damian McKenzie, Richie Mo’unga, Ryan Crotty, Jack Goodhue, Anton Lienert-Brown, Sonny Bill Williams, Jordie Barrett, Rieko Ioane, Nehe Milner-Skudder, Waisake Naholo, Ben Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Niklaas ·

Hierdie All Blacks gaan gevaarlik wees , meer as tevore. Hul ego is seergemaak en vergelding gaan hul soek teen SA. Dit gaan een fel stryd wees op Loftus.

Gollie ·

Net soos almal onder die indruk was oor watse groot telling die bokke gaan kry teen die ABs toe word hulle verras,so ons sien uit na volgende game hier in SA LOFTUS!!!!!!!

Kwi ·

Saffas, jul het 1 game gewen, mens sal sweer jul het die world cup gewen.

Robert ·

Jy het duidelik nie na Rassie se “post match” onderhoud geluister nie. Dit is vir enige span ‘n massiewe ding om die AB’s in NS te klop, omdat hulle die kerf so hoog stel. Miskien moet jy dalk nie te gou praat dalk wen die Bokke die WC.

Siestog ·

Maandag na die game kla jy weer oor die ref en die AB spelers wat vuil speel. Daar sal altyd verskoning wees as die ou bokkies verloor.

waarheid ·

Jip Reid gaan vir ‘n paar dae af wees. Hy gaan eers speel wanneer NZ teen die Springbokke speel. Ek wonder waarom?

Regtig? ·

Die rede is want die All Black B-span kan sonder hom klaarkom. Almal weet wat om te doen al is die kaptein nie daar nie. Die bokke het 3 kapteins en niemand weet wat om te doen nie al is al die kapteins op die veld. Die Bok ondersteuners raak verniet bly oor een wen–al die ander verloor games is vergete.

Gollie ·

Net soos almal onder die indruk was oor watse groot telling die bokke gaan kry teen die ABs toe word hulle verras,so ons sien uit na volgende game hier in SA LOFTUS!!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.