All Blacks wil Saterdag die uitklophou plant

Steve Hansen

Vergeet daarvan dat die All Blacks oorgerus gaan wees vir Saterdag se toets in die Rugbykampioenskap teen die Springbokke op Nuweland.

Vergeet ook daarvan dat die Kiwi’s nie hul beste span gaan kies nie; en ook dat die All Blacks gaan slaplê omdat hulle reeds verlede week vanjaar se reeks beklink het.

Daardie dae is verby. Dit bestaan nie meer in die afrigter Steve Hansen se boek nie.

Dis hoekom Hansen en sy mede-All Blackkeurders hul beste beskikbare span gekies het, want hulle wil nog ʼn slag teen die Bokke slaan, die uitklophou plant en hulle wil kontinuïteit behou.

Daar was vooraf sprake dat Lima Sopoaga die losskakel teen die Bokke sou wees, veral omdat Beauden Barrett inderhaas in sy plek opgeroep is om in Argentinië teen die Pumas te speel.

Maar die All Blacks wil nie waag nie, en hulle wil nie die agterdeur vir die Bokke ooplaat om moontlike leemtes uit te buit nie.

Hansen het gesê dat hy die skuif oorweeg het, maar dat hy daarteen besluit het omdat hy nie “die beste losskakel op die wêreld op die bank wil hê nie”.

Die veranderings aan die span wat die Pumas met 36-15 geklop het nadat hulle rustyd met 29-3 voor was, sluit in die vlugvoetige Nehe Milner-Skudder op regtervleuel, Ryan Crotty op buitesenter, Sam Cane en Liam Squire as flankpaar en Sam Whitelock wat as slot terugkeer.

Dis byna dieselfde All Black-span wat die Bokke met 57-0 in Albany afgeransel het, afgesien van die slot Brodie Retallick, Barrett, wat om menslikheidsredes nie oorweeg is nie nadat sy vrou, Niki, ʼn miskraam gehad het.

Retallick word deur Scott Barrett vervang, wat al hoe sterker na vore tree en nie eintlik die span verswak nie.

Hansen het die afgelope week as baie moeilik beskryf: die reistyd na en van Argentinië, en die fisieke toets teen die Pumas.

Hy het weer beklemtoon dat die telbord nie die volle verhaal van die Bokke se 0-57-neerlaag vertel nie.

Maar as jy die Bokke in die afgelope drie toetse met 41-13, 57-15 en 57-0 oorrompel het en jy span jou beste span weer in, kan dinge sekerlik nie verkeerd loop nie, veral nie met die verwagte veranderings aan die Bokspan nie.

Die All Blacks se span –

Damian McKenzie, Nehe Milner-Skudder, Ryan Crotty, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Beauden Barrett, Aaron Smith, Kieran Read (c), Sam Cane, Liam Squire, Scott Barrett, Sam Whitelock, Nepo Laulala, Dane Coles, Kane Hames. Plaasvervangers: Codie Taylor, Wyatt Crockett. Ofa Tu’ungafasi, Patrick Tuipulotu, Matt Todd, Tawera Kerr-Barlow, Lima Sopoaga, David Havili.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henry ·

Wel, as 57-0 dan nie ‘n uitklop hou was nie, gaan Saterdag se storie vir seker ‘n smerige storie wees!!!
Gelukkig sal my pelle en ek nie die slagting aanskou nie. Ons gaan ‘n lekker halwe Karoo kolliehond braai, terwyl ons voor-laasjaar se reënwater uit die tenk tap en kyk hoe die gras aan’t groei raak in ons kurkdroë omgewing.
:-)

Eish ·

Natuurlik gaan hul dit doen. Die boerbokke is klaar uit op hul voete. Ons kyk na n rekord plaaslike nederlaag.

Veritas ·

Dit is soos om Mike Tyson teen Charlie Weir te laat boks. Of is dit Charlie Chaplin?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.