All Blacks wil teen Wallis vir 80 minute wys hulle is die beste

Die All Blacks speel die afgelope tyd met rukke en stote. ʼn Goeie eerste helfte, of as hulle teen rustyd  nie gemaklik voor is nie, kom hul met ʼn goeie laaste 40 minute tevore.

Maar dit lyk of hulle Saterdag (afskop 19:15), teen Wallis teen wie hulle sedert 1953 nog nie verloor het nie, die twee 40 minuut-helftes op een dag wil nastreef nadat hulle Frankryk voor rustyd verniel en toe net geluier het; en verlede week teen Skotland gepoer-poer maar genoeg gedoen het teen ʼn span wat oorgehaal vir die Nieu-Seelanders was.

Dit was ook so in die tweede wedstryd in die Rugbykampioenskap teen Suid-Afrika en ook twee keer teen die Wallabies.

Dalk ʼn bietjie grootkop? Of is hulle bloot net nie akkuraat genoeg nie? Die afrigters kla dat hulle nie geduld het nie …

Die All Blacks het, soos Wallis, ook beseringsprobleme. Onder meer moet hulle kaptein Kieran Read,  die slot Luke Romano en dalk die jong vleuelsensasie Rieko Ioane uitsit – en die losvoorspeler Ardie Savea het boonop pampoentjies!

Wallis, wat met 12 veranderinge die span versterk het na die naelskraap-sege met ʼn B-span teen Georgië, sal hoofsaaklik vir Liam Williams en Jonathan Davies mis.

Dis nou 64 jaar sedert die All Blacks laas teen Wallis verloor het en dit behoort 65 jaar te word. Maar belangriker vir die Swarttruie is dat hulle na die wêreld se beste span lyk.

Spanne –

Wallis – 15 Leigh Halfpenny, 14 Steff Evans, 13 Scott Williams, 12 Owen Williams, 11 Hallam Amos, 10 Dan Biggar 9 Rhys Webb, 8 Taulupe Faletau, 7 Josh Navidi, 6 Aaron Shingler, 5 Alun Wyn Jones (kaptein), 4 Jake Ball, 3 Tomas Francis, 2 Ken Owens, 1 Rob Evans.
Bank: 16 Kristian Dacey, 17 Wyn Jones, 18 Leon Brown, 19 Cory Hill, 20 Justin Tipuric, 21 Gareth Davies, 22 Rhys Priestland, 23 Jamie Roberts
Nieu-Seeland – 15 Damian McKenzie, 14 Waisake Naholo, 13 Ryan Crotty, 12 Sonny Bill Williams, 11 Rieko Ioane, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Luke Whitelock, 7 Sam Cane, 6 Liam Squire, 5 Samuel Whitelock (kaptein), 4 Patrick Tuipulotu, 3 Nepo Laulala, 2 Codie Taylor, 1 Kane Hames. Bank: 16 Nathan Harris, 17 Wyatt Crockett, 18 Ofa Tu’ungafasi, 19 Scott Barrett, 20 Matt Todd, 21 TJ Perenara, 22 Lima Sopoaga, 23 Anton Lienert-Brown.

Skotland vs Australië, Murrayfield, afskop 16:30

Die Wallabies wil graag hulle vorige kaptein Steven Moore in die haker se laaste toets en wedstryd ʼn afskeid gee om te onthou wanneer hulle op Murrrayfield teen Skotland speel.

Dit sal Moore se 129ste toets wees, en saam met sy 177 Superwedstryde is die kaalkop-haker gewis een van die grotes van Wallabyrugby.

Benewens hierdie stukkie motivering, is daar ook die neerlaag tydens die inkomende toer in Junie teen die einste Skotte wat deur ʼn veel verbeterde Australiese span reggemaak moet word.

Maar Skotland is self aan die verbeter en het verlede week die All Blacks laat uithaal. Of hulle twee keer na dieselfde hoogtes teen een van die wêreld se grotes kan bereik sal gesien moet word; maar aan die ander kant is daar nou die geloof dat hulle hul man kan staan.

Die Wallabies sit nog kop onderstebo na hulle (onverdiende groot) loesing van 6-30 teen Engeland en sal dít as motivering kan gebruik.

Maar natuurlik sal net motivering nie vir een van die twee spanne genoeg wees nie. Hulle sal op die veld hulle make moet maak – en die Aussies behoort net-net te veel skietgoed vir die Skotte te hê.

Spanne –  

Skotland  15 Stuart Hogg, 14 Tommy Seymour, 13 Huw Jones, 12 Alex Dunbar, 11 Sean Maitland, 10 Finn Russell, 9 Ali Price, 8 Ryan Wilson, 7 Hamish Watson, 6 John Barclay (kaptein), 5 Jonny Gray, 4 Grant Gilchrist, 3 Simon Berghan, 2 Stuart McInally, 1 Darryl Marfo. Bank:16 Fraser Brown, 17 Jamie Bhatti, 18 Zander Fagerson, 19 Ben Toolis, 20 Cornell du Preez, 21 Henry Pyrgos, 22 Pete Horne, 23 Byron McGuigan.
Australië  15 Kurtley Beale, 14 Marika Koroibete, 13 Tevita Kuridrani, 12 Samu Kerevi, 11 Reece Hodge, 10 Bernard Foley, 9 Will Genia, 8 Sean McMahon, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Ned Hanigan, 5 Blake Enever, 4 Rob Simmons, 3 Sekope Kepu, 2 Stephen Moore, 1 Scott Sio. Bank:16 Tatafu Polota-Naue, 17 Tetera Faulkner, 18 Taniela Tupoua, 19 Lukhan Tui, 20 Lopeti Timani, 21 Nick Phipps, 22 Karmichael Hunt, 23 Karmichael Hunt.

Ierland teen Argentinië, Landsdowne Road, afskop 19:30

Argentinië stel nou al drie, vier jaar teleur met ʼn uitskiet-oorwinning hier en daar, maar moet volpunte kry vir hulle goeie laaste kwartier verlede week teen Italië. Dit en ʼn oorwinning teen Georgië in Junie was hulle enigste twee oorwinnings sedert verlede jaar.

Dis egter moeilik om te sien hoe die Pumas die Iere sal verras – selfs al het hulle Ierland in 2015 in die kwarteind van die Wêreldbekertoernooi met 43-20 uitgeskakel.

Ierland het ʼn aantal noodgedwonge veranderinge aangebring en sal onder meer met ʼn nuwe en onervare senterkombinasie van Chris Farrell en Bundee Aki, en die nuweling Adam Byrne op regtervleuel, opdraf.

Hulle behoort nietemin te veel skietgoed vir Agustin Creevy se span en veral hul goeie pak voorspelers te hê.

Spanne –

Ierland
15 Rob Kearney, 14 Adam Byrne, 13 Chris Farrell, 12 Bundee Aki, 11 Jacob Stockdale, 10 Johnny Sexton, 9 Conor Murray, 8 CJ Stander, 7 Sean O’Brien, 6 Peter O’Mahony, 5 Iain Henderson, 4 James Ryan, 3 Tadhg Furlong, 2 Rory Best (kaptein), 1 Cian Healy Bank: 16 James Tracy, 17 Dave Kilcoyne, 18 John Ryan, 19 Devin Toner, 20 Rhys Ruddock, 21 Luke McGrath, 22 Ian Keatley, 23 Andrew Conway
Argentinië
15 Joaquin Tuculet, 14 Ramiro Moyano, 13 Matias Moroni, 12 Santiago Gonzalez Iglesias, 11 Emiliano Boffelli, 10 Nicolas Sanchez, 9 Martin Landajo, 8 Tomas Lezana, 7 Marcos Kremer, 6 Pablo Matera, 5 Tomas Lavanini, 4 Matias Alemanno, 3 Nahuel Tetaz Chapparo, 2 Agustin Creevy (kaptein), 1 Santiago Garcia Botta Bank: 16 Julian Montoya, 17 Lucas Noguera, 18 Enrique Pierretto, 19 Guido Petti, 20  Juan Manuel Leguizamon, 21 Gonzalo Bertranou, 22 Jeronimo de la Fuente, 23 Sebastian Cancelliere.

Frankryk teen Japan, U Arena (Parys), afskop 21:00

Frankryk het agt veranderinge aangebring, ses daarvan in die agterlyn, na hulle power vertoning teen ʼn amperse ewe vrot Suid-Afrika verlede week. Hulle speel teen Japan, maar die manne vanuit die Ooste lyk nie of hulle hul groei van die afgelope twee jaar voortgesit het nie.

Hulle het wel verlede week met Tonga afgereken, 39-6, maar het drie weke gelede met 30-63 teen die Wallabies – in Japan – verloor, twee keer deeglik teen die Iere in Tokio en Shizuoka pak gekry maar darem vir Roemenië geklop.

Japan is 11de op die wêreldranglys. Dit lyk nie of reeds vir die voorste lande kan vasvat nie. Die sukkelende Franse, agste op die ranglys, kan dalk hierdie wedstryd as regruk kans gebruik – maar dan sal hulle darem moet opdaag en nie net rondploeter soos teen die Bokke nie.

Engeland vs Samoa op Twickenham, afskop 17:00

Engeland, met nege veranderinge, speel in die sogenaamde stryd van die “rykes teen die armes” teen Samoa wat glo as unie nie geld het om die spelers te betaal nie. Dis ʼn polemiek op sy eie, want dinge en geldsake (en leuens) lol al lank en kniehalter die eilanders se ontwikkeling.

Eddie Jones gebruik die wedstryd as ʼn geleentheid om te sien hoe die nuwe manne teen taai teenstand sal vaar, want oor Samoa se aggressie en inklimspel is daar geen twyfel nie.

ʼn Sege vir die Suidsee-eilandspan lyk egter baie onwaarskynlik.

Ander toetse Saterdag –

Duitsland vs Chili in Offenbach; Namibië vs Uruguay in Windhoek; Georgië vs VSA in Tbilisi; Spanje vs Brasilië in Villaloyosa; Roemenië vs Tonga in Boekarest; Fidji vs Kanada in Barbonne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.