Alle aandag by Superreeks, maar wat van die Cheetahs?

Die besluit van die Suid-Afrikaanse rugbybase wat verlede jaar die Superrugbymat onder die Cheetahs en Southern Kings uitgepluk het, sal dié naweek eers behoorlik na waarde geskat word.

Ja, daar was seker geen ander uitweg nie, want daar is ooreengekom dat twee spanne van Suid-Afrika en ʼn Aussie-span die trekpas moes kry. Hou die Japanse Sunwolves en Melbourne Rebels in die reeks, dun eerder twee Suid-Afrikaanse spanne uit.

Ja, daar is vinnig planne gemaak om die Cheetahs en Kings in die Pro14-reeks te laat speel om te sorg dat rugby in die twee bonde nie ʼn wurgdood sterf nie; maar is hulle nie maar steeds die weeskinders van Suid-Afrikaanse rugby nie? Het hulle werklik baat daarby gevind en is daar lig in die tonnel?

Is hulle nie slagveld toe gestuur sonder die nodige arsenaal nie?

Die meeste rugbyondersteuners weet dat die Stormers Saterdagoggend in Sydney Superrugby teen die Waratahs speel, dat die Lions die Jaguares op Ellispark pak, en dat die Bulls hul aanslag op Loftus Versfeld teen die Hurricanes afskop. Hoeveel weet dat Leinster laat Vrydagaand teen die Kings speel en die Cheetahs Saterdagaand met die Ospreys meeding?

Hoeveel spelers van die Cheetahs het na vore getree of hul aansprake verstewig om vir die Springbokke te speel?

Die Cheetahs kan dalk by die agterdeur inglip om tot die kwarteindronde van die Pro-reeks op 4 Mei deur te dring (as hulle derde in hul afdeling eindig), waar hulle dan na alle waarskynlikheid die soveelste keer na Europa sal moet reis om in Limerick teen Munster (met al sy Ierse spelers) te moet uitspeel.

Wanneer die Pro14-reeks aan die einde van Mei eindig, gaan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) behoorlik voorraad by die Kings opneem?

Of sal al die aandag net op die Superreeks gevestig wees?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.