Alle oë op SA vrouerugby

Deur Rudolph Lake

Die Springbok vrouerugbyspan (Foto: Kazuhiro NOGI / AFP)

’n Rekordgetal toeskouers van 40 000 sal Suid-Afrika se openingswedstryd in die Wêreldbeker-rugbytoernooi teen Frankryk kyk.

Dit is dubbel soveel as die vorige rekord van 20 000 toeskouers wat die eindstryd van 2014 se Wêreldbeker-toernooi in Parys tussen Engeland en Nieu-Seeland bygewoon het.

Die Springbok‑vrouerugbyspan se wedstryd teen die Franse is die eerste van drie wat Saterdag op die Eden Park-stadion in Auckland beslis word.

Fidji en Engeland meet in die tweede wedstryd kragte, waarna Australië en Nieu-Seeland in die derde wedstryd mekaar die stryd sal aansê.

Die Suid-Afrikaanse kamp hoop op ’n goeie begin teen Frankryk, wat die Bokke verlede jaar in Vannes met 46 – 3 platgevee het.

Die span se losskakel, Libbie Janse van Rensburg, is oortuig dat sy en haar spanmaats hulle kan laat geld. Sy reken die huidige Suid-Afrikaanse span is ’n veel beter een as die span wat verlede jaar teen die Franse verloor het.

“Verlede jaar was die eerste keer dat baie van ons saamgespeel het. In ons voorbereiding vir die WB-toernooi kon ons in elke wedstryd verbetering sien.

“Die Franse is ’n sterk span en ons is nie blind oor wat voorlê nie. Maar ons het reuse-ondersteuning van die mense by die huis in Suid-Afrika en indien dinge reg verloop, gaan ons hulle ’n bietjie gas gee,” het Janse van Rensburg oor die Springbokke se vooruitsigte teen Frankryk gesê.

Die Bok-breier Stanley Raubenheimer sê enigiets kan op die dag gebeur, maar sy span wil net probeer om goeie rekenskap van hulself te gee.

Die Springbokke kon die Franse nog nooit klop nie en spog met ’n rekord van vier nederlae en ’n gelykop-uitslag teen hulle.

“Die hele wêreld se oë gaan op ons wees in die openingswedstryd. Dit is ’n voorreg om in só ’n wedstryd te speel, maar ons moet bewys ons verdien om in die toernooi te speel,” het Raubenheimer gesê.

Engeland en Nieu-Seeland is die groot gunstelinge om die Wêreldbeker in te palm.

Die Engelse, wat reeds twee keer die WB-kroon verower het, het in 2019 laas ’n wedstryd verloor toe Nieu-Seeland hulle getroef het. Sedertdien het hulle 25 agtereenvolgende oorwinnings behaal.

Nieu-Seeland spog reeds met vyf WB-krone.

Die Kiwi’s se skrumskakel, Kendra Cocksedge, sê haar span se eerste wedstryd gaan beslis emosioneel wees.

“Niemand het nog ooit voor soveel mense gespeel nie, so dit gaan ’n emosionele ervaring wees. Ons het egter ’n taak om te verrig en dit is om ’n rugbywedstryd te wen,” het die veteraan van 62 toetse oor die stryd teen Australië gesê.

Engeland se kaptein, Sarah Hunter, sê vanjaar se WB-toernooi voel anders as die vorige vier waarin sy gespeel het.

“Daar is meer glans en daar is meer belangstelling. Vrouerugby het die laaste jare baie gegroei en die kollig skyn op ons. Hierdie gaan die grootste gebeurtenis ooit vir vrouerugby wees en ek is verheug dat ek deel daarvan kan wees,” het Hunter voor haar span se kragmeting met Fidji gesê.

Ander bepalings die naweek:

Sondag: VSA t. Italië; Japan t. Kanada; Wallis t. Skotland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Ongelukkig is ons vroue span baie ver van die gehalte van die top spanne in die wereld. Daar sal iets aangedoen moet word, dis nie asof ons vrouens net onlangs begin speel het nie en dit lyk nie juis of hulle verbeter nie. Wat gaan daar aan? Laas toe ek hulle gesien het, was teen Wallis. Die agterlyn is okay maar die voorspelers. Eish. Die skills was pateties. ‘n Mens sou dink dat ‘n top afrigter aangestel word om die spulletjie reg te ruk.

Pieter9 ·

Oorgewig, stadig en kan nie bal uitgee nie; daar is 3 wat naastenby op internasionale standard is. Dus voorspel ek ‘n moeilike tydjie vir die span. Spel-tempo gaan dit vir ons dames baie ongemaklik maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.