Alles dui op ʼn sege vir die All Blacks

rugbychampionship (Foto sanzaar)Wêreldrugby se vernaamste en taaiste tweestryde die afgelope 95 jaar tussen die Springbokke en die All Blacks het verdun tot feitlik voorspelbare seges vir Nieu-Seeland – en só sal dit Saterdag in Durban seker weer wees.

Vergeet daarvan dat dit verlede jaar ʼn omstrede beslissing oor stut-plaasvervanging was toe die Springbokke op verlede jaar teen 14 man ʼn vyfmeterskrum gehad het om die gaping een die All Blacks verder te vergroot.

Vergeet ook daarvan dat Suid-Afrika hulle in die Wêreldbeker-halfeind net met twee punte verloor het.

En vergeet veral daarvan dat hierdie Springbokspan die stap gaan neem om meer aanvallend te speel. Met Morné Steyn op losskakel en Damian de Allende op binnesenter, is dit eenvoudig nie die plan nie en ook nie moontlik nie.

Sou hulle dit doen, is die vraag met ʼn maklike antwoord: sal die (nou veel stadiger Bryan Habana) en die dapper, taai Francois Hougaard, die vaart hê om te gaan druk?

Verrassings is natuurlik moontlik. Maar die beroepswedders maak hulle fortuine selfs sonder hierdie verrassings, en by die Suid-Afrikaanse beroepswedders is daar seker ʼn tikkie patriotisme in die voorspelling dat Nieu-Seeland met (net) 12 punte sal wen.

Hoekom is die All Blacks die gunstelinge? Hierdie is immers ʼn ‘nuwe’ span met van die heel beste in hulle geskiedenis, soos ondermeer Dan Carter en Richie McCaw,  wat nie meer vir hulle speel nie.

Die huidige span hanteer net so goed soos verlede jaar s’n; hulle ondersteun stukke beter as die Springbokke; hulle het deurgaans in die agterlyn meer vaart en vaardigheid; en boonop ʼn pak wat man vir man die Bokke se gelyke is en in die meeste gevalle hul meerdere.

Francois Louw, wat tot dusver saam met Agustin Creevy en Michael Hooper die meeste omkeerbesit van al vier spanne in die Rugbykampioenskap gewen het, en Eben Etzebeth is stellig hier die twee Bok-uitsonderings

Selfs tuisveldvoordeel sal die Bokke hoogswaarskynlik geen snars bevoordeel nie. Vier wenne in die laaste 11 tuistoetse is al wat Suid-Afrika die afgelope 10 jaar kan wys.

Dusver het Nieu-Seeland in hulle vyf toetse in die Rugbykampioenskap 29 drieë gedruk, die Bokke net vyf. En Suid-Afrika het net twee van die laaste tien toetse tussen die twee spanne gewen.

Dié dinge is die resultaat van SA rugby se stiksienigheid dat krag en skop steeds die antwoord is – van laerskoolvlak af, waar die grootste ou die bal moet kry en met krag en geweld gaan druk, tot op die heel hoogste vlak, waar daar as ʼn resultaat in elk geval weinig vaardigheid is,

Die Springbokke is in die twee spanne se vorige kragmeting in Christchurch te veel in die skrums gestraf. Hulle het te veel lynstaanballe op hul eie ingooie verloor.

Daar was te veel probleme met die kommunikasie en posisionering op die verdediging, waar Faf de Klerk, heel onregverdig, die groot blaam gekry het vir sy wegbreek van die skrums af om wyd te gaan keer. Soos vele van sy spanmaats, kán hy keer as dit man teen man is. Goeie kommunikasie is egter nie by hulle ingeprent nie.

Die All Blacks se ses drieë in daardie toets sê so.

Die Bokke het op Loftus gesukkel om meer as 30 persent besit in die eerste helfte teen van die swakker Australiese spanne in baie jare te wen. Dink net wat die All Blacks met soveel besit sou gemaak het.

Wie weet, dalk het iets in die week gebeur waarvan ons nie weet nie. Dalk kan Morné Steyn weer die Bokke se basse red soos in 2009 toe hy al 31 hulle punte aangeteken het.

Dis onwaarskynlik. Die manne sal ongetwyfeld elke druppel sweet en greintjie energie gee, maar gehalte sal meestal in toetse die deurslag gee – selfs al is die bal nie rond nie.

En gehalte is aan die All Blacks se kant .

Spanne –

Suid-Afrika
15 Pat Lambie, 14 Francois Hougaard, 13 Juan de Jongh, 12 Damian de Allende, 11 Bryan Habana, 10 Morne Steyn, 9 Faf de Klerk, 8 Warren Whiteley, 7 Oupa Mohoje, 6 Francois Louw, 5 Pieter-Steph du Toit, 4 Eben Etzebeth, 3 Vincent Koch, 2 Adriaan Strauss (kapt.), 1 Tendai Mtawarira. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Julian Redelinghuys, 19 Lood de Jager, 20 Willem Alberts, 21 Jaco Kriel, 22 Lionel Mapoe, 23 Willie le Roux.

Nieu-Seeland
15 Ben Smith, 14 Israel Dagg, 13 Anton Lienert-Brown, 12 Ryan Crotty, 11 Waisake Naholo, 10 Beauden Barrett, 9 TJ Perenara, 8 Kieran Read (kapt.), 7 Matt Todd, 6 Jerome Kaino, 5 Sam Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Dane Coles, 1 Joe Moody. Bank: 16 Codie Taylor, 17 Wyatt Crockett, 18 Charlie Faumuina, 19 Liam Squire, 20 Ardie Savea, 21 Tawera Kerr-Barlow, 22 Lima Sopoaga, 23 George Moala.

Afskop: 17:05

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hasie ·

Een te ding wat die afrigter van die Bokke nooit vir sy span vertel nie is dat hulle die bal agter die opponente se pale moet gaan druk om punte te kry.

Jano ·

Stem saam met jou Hasie
Hulle kan nie want daar is te veel voorspelers in die agterspelers se pad

Frans C ·

Ek gaan nou my kop in ‘n bynes insteek.Het die tyd nie aangebreek om Suid Afrika se rugby te herkonstruktureer nie.Is die tyd van die sg vyf grotes nie verby nie. Wat help dit dat spanne wat in die Curriebeker speel hul bes doen as die sg. grotes steeds van ‘n plek verseker is.

Die Leeus klop die Boland met ‘n groot telling maar sukkel verder as hul Springbokke nie daar is nie. Die Vrystaat is onoorwonne-maar wat beteken dit nou eintlik? Die feit is dat van die groter Unies net sterk bly as hul op ‘n gereelde grondslag spelers aankoop,maar dan tog nog op internasionale vlak nie hond haaraf maak nie.

Hoekom kan ons nie meeding met NZ wat ‘n veel kleiner spelers getal het. Is dit nie omdat
elke afrigter slegs sy eie span se belang op die hart het en solank die wen is alles reg.

Wat is die oplossing-want as die Nasionale span op die afdraande pad bly beteken ‘n oorwinning in die Curriebeker reeks en ‘n eindwedstryd in in die Super 18 niks en is al die oorwinnings niks meer as goedkoop ‘window dressing’ dit lyk mooi van buite af maar dit is al.

Frans C ·

‘n Droewe Saterdagaand.Suid Afrika se rugbytrots lê begrawe 15-57 op Growthpoint Kings Park Durban. Rus in vrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.