Allister, die tyd vir verskonings is finaal verby

Allister Coetzee (Foto: herald.ie)

Allister Coetzee (Foto: herald.ie)

Dit het die Suid-Afrikaanse rugbybase drie maande geneem om die Springbokmasjien te versien, dus kan daar geen verskonings meer vir die Bokafrigter, Allister Coetzee, wees as die Bokke in Junie in die reeks van drie toetse teen Frankryk sukkel nie.

Wanneer Brendan Venter ná die Sesnasiesreeks as die laaste belangrike lid van Coetzee se afrigtingspan inval, sal Coetzee op Venter, Franco Smith, Matt Proudfoot en Johann van Graan se knoppies kan druk. Dus is daar nou geen verskonings dat die onervare Mzwandile Stick as agterlynafrigter op hom afgedwing is nie.

Daar is drie oefenkampe vir die Bokke gereël – die eerste word Dinsdag afgehandel nadat die Bok-groep in Johannesburg saamgetrek het.

Coetzee kan dus ook nie meer die geldige verskoning gebruik dat die span nie behoorlik voorbereid was nie. Die franchise-afrigters gee ook hul heelhartige samewerking en hulle omarm ook ʼn spelpatroon wat die Cheetahs en die Lions in die Superrugbyreeks nastreef.

Die kondisioneringsafrigters sit ook koppe bymekaar, dus kan die spelers se fiksheid ook nie meer bevraagteken word nie.

Coetzee kan ook die meeste van die Bokke wat oorsee speel, steeds oorweeg, want die rugbybase se besluit om ʼn beperking op die insluiting van spelers te plaas wat nog nie in meer as 30 toetse gespeel het nie, het die kraan beslis nie toegedraai nie. Daar hang net vraagtekens oor twee of drie spelers, soos Steven Kitshoff en Marcell Coetzee.

Kitshoff sal na alle waarskynlikheid binnekort na Suid-Afrika terugkeer en as Coetzee teen die Franse speel, sal hy meer as die 30-toetskerf verbygesteek het. Dus kan die verskoning dat hy nie oorsese talent mag gebruik nie, ook nie meer in die pad van oorwinnings staan nie.

Die grondslag moet dus teen die Franse gelê en in die Rugbykampioenskap teen Nieu-Seeland, Australië en Argentinië voortgesit word.

Die besluite moes reeds verlede jaar geneem gewees het voordat Coetzee aangestel is, maar ondanks al die waarskuwings is daar nie ag daarop geslaan nie.

Nou het Coetzee alles gekry wat hy wou gehad het, en nou kan hy en sy afrigtingspan by die feesmaal aansit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Scalla ·

Hulle gaan seker weer begin bou. Bou met die beste spelers op vorm en in die regte possisie en nie op grond van kwota nie asb. Dan is daar hoop.

Zeus ·

Ja nee ons bou altyd na die volgende wereldbeker dan vaar ons nie baie goed nie dan bou ons weer na die volgende, Wanneer is daar nou bitjie klaar gebou?

Frans C ·

Solank daar transformasie doelwitte is wat vir politieke doeleindes bereik moet word
kan rugbyliefhebbers hul maar klaarmaak dat die dae van Springbokrugby agter die rug is.

Hoekom vasklou aan iets wat nie meer bestaan nie.

Ben ·

Hierdie hoofstuk van my lewe is toe gemaak. Die minister, sy adjunk en die res van die sirkus moet maar die derde rangse rugby wat opgedis word geniet.

Anton ·

…ek hoop hulle vermy die woorde: “back to basics”…waarom het hul indie eerste plek die “basics” verlaat…daai woorde gee my die horries…en ook “terug na die tekenbord”…dit gee my die pieps…en dan die ergste “hy het sy hand opgesteek” …as ek dit hoor wil ek my skoonma sommer oopmond soen nadat sy biltong ge-eet het…

André ·

Ek stem anton. Soveel clichés wat rêrig in pyn in die agterstewe is. En om nie van die tv onderhoude na die games te praat nie. Al die spelers ja, ja, die heeltyd. “ja, the game was tough. Ja, we lost and have to go back to the drawing board, Ja, as I said, the team was good today…” wil sommer ‘n kat skiet as ek dit hoor.

humor ·

Klink dan my dit gaan volgens die patroon wat mens deesdae oral kry. Coetzee loop met die koek weg en die ander doen die werk.

Mr P ·

Het ni meer tv of dstv ni. Het nie meer lus vir di gemors ni. Lekker verloor Frikkie.

Ja-nee ·

Kyk mooi na die afrigtingspan. As die bokke begin wen wie gaan die krediet kry en wie moet die donkiewerk doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.