Allister droom seker daaroor

Allister Coetzee (Foto: stuff.co.nz)

Allister Coetzee (Foto: stuff.co.nz)

Die Springbokafrigter Allister Coetzee lê seker snags daaroor en droom, om te kry wat hy as afrigter vra.

Die Iere (ons behoort hulle darem in die reeks van drie toetse te klop) is oor `n maand hier en steeds is daar nie duidelikheid of Coetzee vir Matthew Proudfoot, die oud-Puk-, Stormers- en Skotse stut kan inspan nie.

Die probleem is dat Suid-Afrikaanse rugbybase oor Coetzee se bestuurspan besluit het – soos die voorspelerafrigter Johann van Graan, die skumghoeroe Pieter de Villiers en die agterlynafrigter Mzwandile Stick.

Coetzee het gevra om Proudfoot, met wie hy jare lank in die Kaap `n paadjie gestap het, te betrek, maar daar is nog nie `n finale besluit daaroor geneem nie. Maar hoe sal twee skrumafrigters, twee voorspeler-afrigters by oefeninge inskakel?

Daarteenoor kry die Engelse afrigter, Eddie Jones, waarvoor hy vra.

Jones het `n week of wat gelede Neal Hatley van Bath as skrumafrigter betrek. Hatley (46) het vroeër aan die Universiteit van Natal gestudeer en het vir die Sharks en Westelike Provinsie gespeel voordat hy sy loopbaan by London Irish afgesluit het.

Dan het Jones Donderdag aangekondig dat hy die oud-Wallaby Glen Ella vir die komende toer na Australië sal betrek.

Ietsie oor die Ella-broers: twee van Glen Ella se ander broers, Mark en Gary (en sy suster Marcia), het insgelyks vir Australië gespeel. Hulle het hul teestanders jare lank gemesmeraais,  hulle het vernuwing gebring.

Dit laat ‘n mens dink aan die drie drietalle broers wat ook vir die Bokke  gespeel het: die Du Plessis-broers (Michael, Carel en Willie), die Bekkers (Dolf, Jaap en Martiens) en die Luyt-broers (Dick, Lammetjie en John) wat diep spore in SA rugby getrap het.

Eddie Jones (Foto: Twitter)

Eddie Jones (Foto: Twitter)

Jones het `n lang pad saam met die Ella’s, veral Glen,  gestap. Hy en Glen het saam vir Randwick in Sydney gespeel, Glen was saam met hom by die Brumbies en was in 2003 Jones se assistent as Wallaby-afrigter.

Ella, soos Jones, ken die Wallabies se sterk- en swakpunte en dit sal `n groot sielkudige voordeel vir die Engelse wees.

Jones het terloops die oud-Wallaby-flank George Smith met groot welslae as konsultant in die Sesnasies-reeks betrek. Ek sal dus geensins verbaas wees as hy aan die einde van die jaar nog `n oud-Suid-Afrikaner sal betrek nie, want onthou Engeland speel `n toets teen die Bokke.

Jones weet alte goed wat die waarde van konsultante is. Die gewese Bok-afrigter Jake White het hom in 2007 in die Wêrelddbeker-toernooi in Frankryk betrek (Coezee was White se assistent). Jones het soos ‘n vars briesie deur die Bokke getrek – en die Bokke het die toernooi gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

StopTheMadness ·

Ek dink waaroor die bok afrigter moet droom is om n span op meriete te kan kies sonder enige politieke inmenging….

Riaan S ·

Ek kan nregtig nie sien hoe AC n Springbokspan kan kies wat kan wen as hy nie die hulp kry wat hy nodig het nie? Die gameplan wat hy gehad het by die Stormers het nie juis gewerk behalwe op Currie beker vlak nie, en dan vaar die SA spanne boonop swak op Super rugby vlak die jaar. Hulle wen teen mekaar en die swakker Australiese spanne en dan word hulle opgehemel. En dan sit AC nog met n agterlyn afrigter wat nie eers 15 man rugby gespeel het nie en nie ervaring het by n ordentlike span nie. Ek sien ongelukkig swaar tye wat voorle vir SA rugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.