Allister en Rassie: Só verskil hul spankeuses

Rassie Erasmus (Foto Munsterrugby.ie)

Dit bly interessant om te sien hoe die afrigters, met ʼn eie spelpatroon en aanslag, aan voorgangers se spanne verander of skielik self handomkeer spanne kies as hulle onverwags verloor.

Natuurlik word hulle ook deur die beskikbaarheid en beserings van spelers beïnvloed.

Verlede jaar het Allister Coetzee se 2017-Springbokke, toe óók met ʼn tuiswegspring en daarna ʼn wegwedstryd teen Argentinië, in hul derde Rugbykampioenskap-wedstryd in Australië teen die Wallabies te staan gekom.

Nou moet Erasmus, ná die neerlaag teen die Poemas, raakvat vir die Wallabies Saterdag.

Kom ons vergelyk hier die span van Coetzee wat verlede jaar teen die Poemas gewen het (41-23) met dié van Erasmus wat verloor het. Coetzee-hulle het toe twee weke later teen die Wallabies gelykop gespeel.

Coetzee se agterlyn in die oorwinning teen die Poemas was Andries Coetzee, Raymond Rhule, Jesse Kriel, Jan Serfontein, Courtnall Skosan, Elton Jantjies, Francois Hougaard. Rudy Paige, Curwin Bosch en Damien de Allende was op die bank.

Nie ʼn enkele agterspeler van dié groep van tien was 11 dae gelede in Mendoza in Erasmus se wedstryd-23tal nie.

Van Coetzee se 2017-span teen Argentinië kan net die senterpaar De Allende en Jesse Kriel, en Jantjies, van sy agterspelers vir Saterdag se toets in Brisbane teen die Wallabies oorweeg word.

Dus, die twee afrigters het nie oor een speler in die wedstrydgroepe van tien agterspelers vir die twee wedstryde teen die Poemas ooreengestem nie. Serfontein en Rhule is oorsee en dus nie beskikbaar nie.

♦ Voorlangs dink die huidige en die vorige Bok-afrigter redelik eenders.

Vyf van verlede jaar se opdrafvoorspelers en nog drie bankspelers van Coetzee se span het  in Mendoza ook onder Erasmus teen die Poemas gespeel. Hulle is die voorspelers Beast Mtawarira, Malcolm Marx, Eben Etzebeth, Franco Mostert en Siya Kolisi (almal ook in die 2017-beginspan) en Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff en Pieter-Steph du Toit (al drie in albei wedstryde op die bank).

Jaco Kriel, Uzair Cassiem en Coenie Oosthuizen (beginspan) en Trevor Nyakane en Lood de Jager van Coetzee se 2017-span was nie in Erasmus se Mendoza-23-tal nie. Kriel en Cassiem is oorsee en nie beskikbaar nie en die ander drie is beseer.

Dus was net nege spelers ‒ agt voorspelers en een agterspeler ‒ van verlede jaar se 23-tal van Allister Coetzee weer vanjaar onder Erasmus in die tweede toets in Mendoza teen die Poemas betrokke.

♦ Saterdag het Jesse Kriel en De Allende natuurlik weer kans om in die groep en moontlik selfs in die opdrafspan te wees.

♦ Ironies het Jantjies – wat nou weens Pollard se eina-skopwerk, dalk weer opdrafkans sal kry – verlede jaar in Bloemfontein die tweede toets teen die Wallabies laat glip toe hy in beseringstyd nie met ʼn strafskop die kol kon tref nie. Die telling was 27-elk.

Die eerste toets (in Perth) het ook met 23-elk gelykop geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ben ·

In die verlede het ons gewoonlik 2 skoppers in die span gehad. Die loskakel hoef nie die speler te wees wat palle toe skop nie. Wat van Curwin Bosch op heelagter?

Callie ·

Mensk kan nie Pollard vervang net om n skopper in te sit nie. Kwotas maak span dood. Goeie paksles wag

Ryno ·

@Callie. Ek wens julle wil ophou kerm oor kwotas. Ons het tans die opwindendste paar vleuels in ‘n lang tyd. Voorheen was Habana en Pietersen daar en nou het ons blykbaar hulle vervangers gekry. Gaan kyk bietjie mooi wie mis tackles, en veral in die laaste 2 – 3 wedstryde, wie mis kritiese skoppe pale toe? Is dit net die “kwota” spelers? As dit nie vir kwotas was nie, het ons nooit vir Habana en Breyten paulse op die Internasionale arena gesien nie. Ons swart spelers het ons teen Engeland gered, so hou op kerm oor hulle!

Johan ·

Haal al die wit speler uit span asb. Maak afrigter ook swart. Dan sal jul sien hoe wen jul wêreldbeker

kallie ·

AC het gelykop gespeel teen Aus in Aus. Kan Rassie beter vaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.