Allister hoef niks te doen nie, die ARU het Wallabies gekelder

Gepraat van swak beplanning…

Dit het Australiese rugby 148 dae geneem om die Force finaal van sy Superstatus te stroop nadat die hooggeregshof in Nieu-Suid-Wallis Dinsdag in Sydney besluit het om die appèl van die Force van die hand te wys en ten gunste van die Australiese Rugbyunie (ARU) te beslis wat die deur in die Force se gesig toegeklap het.

Maar vyf dae voor die toets tussen die Wallabies en Springbokke, en in Perth van alle plekke?

Rugby in Australië is reeds oor dié besluit in twee geskeur en nou kan die sweer oopbars.

Dit gaan die Wallabies beïnvloed, veral die Force se spelers soos Dale Haylett-Petty, Adam Coleman en Tatafu Polota-Nau.

Hul aandag sal beslis nie op die Bokke wees nie, maar op hul toekoms. Waar gaan hulle voortaan speel? Wat daarvan as hulle reeds eiendom in Perth aangeskaf het? Wat van die kinders op skool en wat van hul drome in Perth?

‘Pak op, pak op, sit jou goedjies op jou kop,’ soos David Kramer in een van sy liedjies sing.

Gaan die spelers van die Force en Rebels, die twee Superspanne wat in die gedrang was, se spelers hand om die blaas kan staan?

Hoe gaan die Force-ondersteuners Saterdag reageer, veral omdat daar reeds wye ondersteuning vir die Bokke in Perth is? Wat gaan gebeur as die Wallabies die kluts kwytraak? Gaan húlle maar die houe gelate aanvaar?

Daar is darem vroegtydig in Suid-Afrika planne vir die Cheetahs en Southern Kings gemaak om in die Pro14-reeks in Europa te speel nadat hulle ook nie meer Superrugby sal speel nie.

Maar dié keer het Australië die bal misgevang, is hulle onkant betrap en het hulle ʼn rooi kaart ontvang.

Dalk is dit die laaste uitweg – ʼn kans om van bo af skoon te maak en die kans om rugby in Australië reg te ruk.

Maar vyf dae voor ʼn toets teen die Bokke?

Aikôna.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rooiwillem ·

Australiese rugby is in ‘n gemors en is al vir ‘n lang tyd. Stadions is leeg en TV kykertalle is minder as netbal. Tog haal ek my hoed af vir die Wallabies wat konstant in die top lande in die wêreld is. Almal wat gespeel het sal jou vertel jy speel vir die ou langs jou. Na twee weke terug se game teen die All Blacks kon jy sien die Wallabies was gefustreerd, seer en kwaad. Dit gaan nie ‘n maklike game wees nie. Australiërs blom as dit swaar gaan.

Josua Keys ·

Dit is maar n druppel in die emmer vergelyke wat tans die afgelope paar jaar in SA rugby gebeur.

Arie ·

Ja die skrywer laat dit klink asof alles reg is met SA Rugby, grapmaker!!!

vrikie ·

Ek het nie ‘n goeie gevoel oor die Bokke eenskomende saterdag nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.