Allister hou by sy wenresep

Franco Mostert kry ruskans, en Ross Cronjé is terug in die Bokspan ná sy enkelbesering. (Foto: GB Jordaan)

Dit kon die Springbokke se toerkeurders nie langer as ʼn paar minute geneem het toe hulle die Bokspan gekies het wat Saterdag in Perth in die Rugbykampioenskap teen die Wallabies speel nie.

Jy hou mos by ʼn wenspan, want dit skep kontinuïteit en wanneer ʼn speler beseer was, keer hy terug.

Daar is geen dramatiese skuiwe nie, net een of twee voor die hand liggende veranderinge aan die span wat die Argentynse Poemas byna twee weke gelede in Salta geklop het.

Die skrumskakel Ross Cronjé keer ná sy enkelbesering terug en vervang Francois Hougaard, wat bank toe skuif.

Hougaard het nie heeltemal oortuig nie, want sy aangeë was te stadig.  Nou is Cronjé terug en sal sy samespel met Elton Jantjies ʼn groot rol speel.

Die slot Franco Mostert, soos vroeër vandeesweek voorspel is, kry ʼn welverdiende ruskans en word deur Pieter-Steph du Toit vervang. Die byna vergete Lood de Jager is op die bank ingesluit om sy roes af te skud.

En o ja, Handré Pollard, wat maande laas gespeel het, is op die plaasvervangersbank. Pollard sal  na alle waarskynlikheid in die tweede helfte opgestuur word. Maar of hy nou al volgende Saterdag in Albany teen die All Blacks moet speel, sal nie ʼn wyse besluit wees nie.

♦  Die Wallaby-kamp het insgelyks ook nie gaan krap waar dit nie jeuk nie.

Die vleuel Dane Haylett-Petty sukkel nog met ʼn besering en Reece Hodge word weer ingespan. Dié langbeen met die groot skopvoet sal die Bokke se agterste drie toets wanneer Michael Foley die Bokke met lugskoppe peper.

Voorlangs lyk die Wallabies stewiger, met die vurige slot Adam Coleman wat ná sy besering terugkeer om Rob Simmons vervang.

Heel interessant is die onervare haker van die Rebels, Jordan Uelese, wat nog net drie Superwedstryde gespeel het, op die bank met Tatafu Polota-Nau in die beginspan in die plek van die veteraan Stephen Moore,  wat vaderskapverlof gegun is.

Uelese is baie soos Malcom Marx gebou (118 kg en 1,89 m) en het vir Australië se o.20-spanne in 2016-’17 gespeel. Duidelik word daar in sy rigting vir die toekoms gekyk.

Die Wallabies het ʼn paar spelbrekers in hul agterlyn, maar die bank lyk maar eina-eina.

Die spanne –

Suid-Afrika: 15 Andries Coetzee, 14 Raymond Rhule, 13 Jesse Kriel, 12 Jan Serfontein, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronjé, 8 Uzair Cassiem, 7 Jaco Kriel, 6 Siya Kolisi, 5 Pieter-Steph du Toit, 4 Eben Etzebeth (kaptein), 3 Coenie Oosthuizen, 2 Malcolm Marx, 1 Beast Mtawarira. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Trevor Nyakane, 19 Lood de Jager, 20 Jean-Luc du Preez, 21 Francois Hougaard, 22 Handré Pollard, 23 Damian de Allende.

Australië: 15 Israel Folau, 14 Henry Speight, 13 Tevita Kuridrani, 12 Kurtley Beale, 11 Reece Hodge, 10 Bernard Foley, 9 Will Genia, 8 Sean McMahon, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Ned Hanigan, 5 Adam Coleman, 4 Rory Arnold, 3 Sekope Kepu, 2 Tatafu Polota-Nau, 1 Scott Sio. Bank: 16 Jordan Uelese, 17 Tom Robertson, 18 Allan Alaalatoa, 19 Rob Simmons, 20 Jack Dempsey, 21 Nick Phipps, 22 Samu Kerevi, 23 Curtis Rona.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Velle ·

Uelese is baie soos Malcom Marx gebou (18 kg en 1.89 m). Sjoe! bietjie lig

Willie ·

Die regte toets sal die naweek wees teen die Auzies, en dan die All Blacks… die ander spanne was nie n goeie “bench mark” nie..

Nico K ·

Die Ausies het nie so swak span as wat hul superspanne se vertoning was nie. In elk van hul superspanne het hulle 3 of 4 goeie spelers gehad so hul nasionale span is nie sleg nie. Ons kan hom wen, maar op hulle veld verloor ons meestal.

Marais ·

Pollard! wat n grap, hoe kan hulle hom kies as hy volgens berig “maande laas” gespeel het. Dis ongehoord en hy kan mos geensins skerp wees nie. Hy moes eers plaaslik n paar wedstryde gespeel het.

Jack Russl ·

Volgens AC is die intensiteit van hulle oefening hoër as die van CC so Pollard het nie nodig om CC te speel nie.

Sal maar sien wat gebeur teen Aus en NZ, ons kan nie die span meet teen die Franse en Argies nie

Callie ·

N fikse en skerp Pollard is n moet. Geen ander loskakel in die land kom naby hom nie. Hoop bokke vaar so dat Pollard ten minste 20 min kan speel

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.