Allister, kies tog Ruan Dreyer se skrumkrag bo Nyakane

Ruan Dreyer – sy skrumkrag is nodig (Foto: GB Jordaan)

As die Bok-afrigter Allister Coetzee sy kaarte reg speel, sal hy Ruan Dreyer bo Trevor Nyakane in die Springbokke se opdrafspan vir Saterdag se toets in die Rugbykampioenskap teen die All Blacks in Albany kies.

Die All Blackkeurders het Woensdag verras toe hulle die Chiefs-loskopstut Kane Hames, wat onlangs nog in Nieu-Seeland se provinsiale Mitre10-bekerreeks gespeel het, bo die ervare Wyatt Crockett (63 toetse) gekies het.

Hames is geen yster nie en het vanjaar nie te veel indruk vir die Chiefs gemaak nie. As Coetzee vir Dreyer in sy opdrafspan aanwys, kan die All Blacks van die begin af onder druk wees.

Hames, wat ’n paar weke gelede nog nie eens ’n volle Superrugby-kontrak gehad het nie, het vroeër in sy loopbaan ook vir die Highlanders gespeel. Maar met Owen Franks en Joe Moody albei beseer en Ben Franks en Charlie Faumuina oorsee, loop die All Blacks se stutspens leeg.

Dalk is die All Blacks ook bang dat Crockett, wat baie lank vir ʼn stut is (1.93 m), nie vroeg onder die skeidsregter deurloop nie omdat hy nie reg bind en skrum nie.

Die besluit is straks ook geneem omdat die Bokke se vaskopstut, Coenie Oosthuizen, sy arm teen die Wallabies gebreek het en die All Blacks glo dat sy plaasvervanger nie sulke hoë eise in die skrum sal stel nie. Maar dan weet ek nie of hulle van Dreyer se skrumkrag bewus is nie.

Hames, wat aan albei kante van die skrum kan sak, is in twee toetse as plaasvervanger opgestuur. Sy eerste toets was in 2016 teen die Wallabies en hy het Crockett, wat ’n stamp teen die kop gekry, onlangs teen die Wallabies vervang.

Maar teen die Wallabies, wat nog selde hoë eise in die skrum gestel het?

Daar is altesame agt veranderinge aan die All Blacks se span wat die Argentynse Poemas die afgelope naweek in New Plymouth geklop het. Die groot kanonne soos Ryan Crotty, Aaron Smith, Sam Whitelock en Sam Cane is almal terug nadat hulle teen die Poemas gerus het. Die vlugvoetige Nehe Milner-Skudder is as regtervleuel behou omdat Israel Dagg steeds las van ’n kniebesering het. Die vurige flank Liam Squire is bo die groentjie c ingesluit ondanks dié se  puik vertoning teen die Poemas.

Ai, as ʼn mens darem sulke diepte het.

Die All Blacks se span –

Damian McKenzie, Nehe Milner-Skudder, Ryan Crotty, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Beauden Barrett, Aaron Smith; Kieran Read (kaptein), Sam Cane, Liam Squire, Sam Whitelock, Brodie Retallick, Nepo Laulala, Dane Coles, Kane Hames. Bank: Codie Taylor, Wyatt Crockett, Ofa Tu’ungafasi, Scott Barrett, Ardie Savea, TJ Perenara, Lima Sopoaga, Anton Lienert-Brown.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henk ·

Ek weet nie wie die dwaas is wat vir Dreyer teen die AB stutte wil speel nie, maar dalk moet hulle gaan kyk wat het met Dreyer in die Leeus Superfinaal gebeur!

lollie ·

Jy’s reg, hy’t gevou teen die Franse ook. Moes rustyd vervang word.

KABOUS ·

Sal iemand groot a.s.b. vir Alister vrae om vir Houdinkie Jantjies op die bank te los net vir die game sit enige iemand daar a.s.b. net vir die Game want hy gaan ons big time kos Saterdag !!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.