Allister maar een van talle Saru-kwessies

springbokDit is een van die heel belangrikste sewe dae in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby wat voorlê, en Allister Coetzee se voortgesette afrigting van die Springbokke is bloot een van baie besprekingspunte.

Van Woensdag af tot aanstaande Dinsdag sal daar in die Saru-raadsaal besluit geneem moet word, en ook in die hof word besluit of WP Rugby (Edms) se voorlopige likwidasie finaal gemaak moet word.

Dit word teengestaan in hofstukke waarin ʼn beskuldiging van wanadministrasie deur WP Rugby gemaak word.

Woensdag
Woensdag bespreek Saru en die Super-franchise’e die kondisionering van die spelers. Oninteressante  en onbelangrik, sou ʼn mens sê, maar een van die redes waarom die Springbokke so erg in veral die tweede helfte van die toetse uitgesak het.

Sinchronisering van die kondisionering, soos in Nieu-Seeland en Engeland, sal bespreek en hopelik volgens realistiese riglyne vir implementering aanvaar word.

Donderdag
Donderdag sal die uitvoerende komitee van Saru vergader om beleidsake rondom die nasionale span en die spelers te bespreek. Dit is van die grootste belang omdat dit ondermeer vaste riglyne vir die kies (of dan nie) van oorsese spelers sal vaslê.

Kapteinskap deur ʼn oorsese speler en die beskikbaarheid van gekose spelers om deel van die `n kondisioneringsproses in SA te wees sal ongetwyfeld ook ter sprake kom.

En vir die manne wat tans ewe lekker in die Super-afseisoen padgee om tydens die Curriebekerreeks ʼn stewige ekstratjie in Japan te verdien, wag daar dalk ook ʼn verrassing.

Dis egter nie so eenvoudig nie. As hulle nie só ‘deeltyds’ daar mag speel nie, wat verhoed hulle om pad te gee om baie, baie meer geld voltyds in Japan te gaan verdien?

Vrydag
Die belangrikste gesprek, oor die toekoms van die land se rugbyunies en hoe die indeling van die unies volgens die sportwet toegepas moet word, kom Vrydag aan die beurt. Met die meeste ander sportsoorte wat dit al ingestel het, moet rugby nou sy planne regkry sodat dit teen 31 Desember aan die SA Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) voorgelê kan word.

Dit is onduidelik hoe die hele struktuur sal werk, maar die afleiding na gesprekke met rugbybase is dat die franchise’e naverwagting sal voortbestaan soos dit nou is; dat  die huidige bonde (sê nou maar die drie in Gauteng, naamlik die GLRU, die BBRU en die VRU) sal voortgaan onder die provinsiale oorkoepelende ‘rugbyunie; en dat hulle steeds in eie reg op eersterangse vlak sal meeding.

Daar sal by elke provinsie onder die een hoof-unie waarskynlik meer geleentheid vir die klubs wees om onder die een oorkoepelende unie klubkompetisies te struktureer wat kruisbestuiwing en sterker mededinging tot gevolg sal hê.

In die geheel: beter beheer, met nege provinsiale unies in plaas van die huidige 14, en moontlike sterker klubligas. En natuurlik groot besparings.

♦  Ook Vrydag sal daar oor konstitusionele sake gesels word. Dit sal moontlik met die gesprek oor die nuwe provinsiale struktuur saamval om die stemreg per provinsie (en dus die huidige unies) te bepaal.

♦  Dan sal daar seker ook gepoog word om die wysiging deur te voer dat die 14 huidige uniepresidente en hul uitvoerende hoofde voortaan nie betrokke sal wees by die proses om die nasionale afrigter aan te stel nie.

Maandag
Daar is Maandag gesprekvoering tussen Allister Coetzee en die Superafrigters oor die pad vorentoe, sodat ʼn mate van sinergie in oefenmetodes, wedstrydplanne, kondisionering en dies meer ingestel sal word en daar stelselmatig na die All Blacks en ook Engeland se denkwyse en patrone oorgeskakel kan word.

Dinsdag
Ondermeer kom dít waaroor die meeste rugbyondersteuners wonder, Maandag aan die beurt. Gaan Allister Coetzee bly of ry?

Dit is uiters onwaarskynlik dat Coetzee gepos sal word. Daar is ʼn hele paar redes daarvoor.

Hy het nie ʼn prestasieklousule in sy eerste jaar gehad nie. Om hom die pad te wys sal benewens die geld wat dit sal kos, glo van die orde van R12 tot 13 miljoen, ook die moontlikheid van ʼn regsgeding inhou.

En geen huidige gekontrakteerde afrigter, het sy dit Franco Smit, Johan Ackermann of enige van die vele genoemde oorsese mense is, sal deur hulle unies/klubs sonder uitkoop-vergoeding deur Saru vrygestel word nie. Dis nóg ʼn spul geld, wat Saru na die verlies van  sy borge nie kan bekostig nie.

Soos dit is stuur Saru op ʼn groot verlies vanjaar en aanstaande jaar af.

En vergeet maar van ʼn man soos Nick Mallett. Hy verdien oorgenoeg waar hy nou sit en kommentaar uitspreek oor spanne en spelers sonder dat hy die druk van prestasie, kwotas en kritiek hoef te trotseer.

In elk geval, Dinsdag hoor die advieskomitee Coetzee aan.

Verskonings deur Coetzee sal daar wel wees, en van hulle is geldig, soos sy laat-aanstelling, en die feit dat hy nie insette kon gee betreffende wie hy as sy assistente wou hê nie.

Van die ander sake is egter onaanvaarbaar, soos Coetzee se swak spankeuses en die rondval tussen kombinasies, gebrek aan ʼn standvastige en veral ook die ewig-wisselende wedstrydplanne, fiksheid, en ook die gebrekkige vertroue wat tussen spelers en afrigter bestaan.

Dinsdag is ook die dag waarop terugvoer oor die Bokke se 2016-vertonings gegee word en ʼn paar interessante vrae sal ongetwyfeld gevra word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

callie ·

Miskien moet SARU nou eerstens na die groot prentjie kyk. Daar word nie eers meer kommentaar gelewer nie. Mense is so siek vir wat in rugby aangaan soos wat hulle vir die aanvalle op plase is. Volgens MM het AC 2 weke gehad om voor te berei vir sy eerste toets. HM het een week gehad. Geen afrigter gaan oorvat op SARU se voorwaardes nie. Hoe moet n speler sy afrigter vertrou as hy enige dag uitgelaat kan word oor kwotas moet verhoog. Wat is erger vir n speler as om te weet ek kan die man langs my nie vertrou nie, hy is nie daar op meriete nie. Laat alle spelers wat nou onder AC was annoniem hul ware probleme op skrif sit, dan kan almal mos sien wat is die probleem volgens die spelers.

Waghond ·

Al wat ek weet, is dat die treurmare volgende jaar voortgesit sal word met “clueless” Allister as hoofafrigter.
Moet nie volgepakte paviljoene verwag nie.

Lions ·

Al wat ek weet is dat die afrigter nie gepos gaan word nie want hy voer transformasie erg uit en dit is way SARU wil hê. Hulle nie geinteresseerd in prestasie nie. Kom ek wed julle

Arie ·

Wel solank allister en kie daar is kyk ek nie rugby nie, onnodig om kwaad te word vir gemors sal wag tot daar weer rugby gespeel word, indien ooit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.