Allister, onthou jy nog wat in 2000 gebeur het?

Allister Coetzee (Foto: Talking Rugby Union)

Allister Coetzee (Foto: Talking Rugby Union)

ʼn Mens hoef seker nie alles te glo wat in die koerante staan nie, maar as dit alles waar is, kan die kop maar net geskud word.

Die Springbokafrigter, Allister Coetzee, pak glo die meeste van die skuld vir die Bokke se patetiese vertoningslys vanjaar op die Bokke wat oorsee speel.  Hulle het ʼn nadelige invloed gehad, oefenkampe kon nie gehou word nie, daar is vrae oor hul kondisionering en die spelers het hulle eers op ʼn Sondag of Maandag voor ʼn toets by die res van hul spanmaats aangesluit.

Dit word jare lank al gesê. Daar is boekdele daaroor geskryf, maar daar is steeds geen beleid oor die kies van dié spelers nie.

Maar daar is die een groot vraag: wie het hulle gekies?

Coetzee en Frans Ludeke was in 2000 Harry Viljoen se hulpafrigters op die Bokke se einde-van-die-jaar toer na Argentinië en Brittanje.

Die Springbokke se eerste wedstryd op toer was teen Tucuman in Argentinië, wat die Bokke met 32-21 gewen het. Coetzee en Ludeke het ʼn groot rol gespeel om Tucuman te klop.

Ná die wedstryd is Coetzee en Ludeke , en die meeste van die spelers wat teen Tucuman gespeel het, Ierland toe om voor te berei vir die kragmeting met Ierland A, terwyl Viljoen en die toetsspan voorberei het vir die toets teen die Poemas in Buenos Aires.

Alles het klopdisselboom verloop, die nie-toetsspan se voorbereiding was afgehandel en die kaptein was reeds gekies toe Viljoen en die toets-Bokke in Ierland aankom. Nee, sê Viljoen, hy wil ʼn ander kaptein en ʼn ander span hê.

Die gevolg? Die Bokke is met 38-11 afgeransel.

Ek het Coetzee en Ludeke jammer gekry, want nou was dit hulle skuld.  Die span kon nie kliek nie, want die spangees was vertroebel. Boonop het die toetsspan aan die babelas van Viljoen se bisarre besluit gelei om glad nie teen die Poemas te skop nie.

En wat gebeur 16 jaar later?

Coetzee is nou in beheer, en die Bokke berei voor vir hul eerste wedstryd in Londen teen die Barbarians, wat met 31-elk gelykop eindig. Coetzee is nogtans in sy noppies, die manne oefen lekker saam, die spangees is goed en die spelers het ingekoop by sy speelpatroon.

Maar toe sluit  die spelers wat oorsee speel eers die Sondag en Maandag by die span aan om voor te berei vir Engeland, wat op ʼn reuse-nederlaag uitloop.

Het die rugbybase Coetzee oor die toer van 2000 uitgevra?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wilhelm Greeff ·

Swak leierskap Coetzee. Dit is sowaar ‘n patetiese verduideliking van ‘n persoon in jou posisie. Ek het baie oor leierskap en veranwoordelikheid te sê maar netnou hang hulle my kommemtaar weer aan die “rassisme” hanger.

Andre van Heerden ·

‘n Swakkeling pak die skuld op iemand anders. Neem verantwoordelikheid Mnr. Coetzee. Beter nog, vat jou goed en trek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.