Allister sal moet raakvat

Allister Coetzee (Foto herald.ie)

Allister Coetzee (Foto herald.ie)

Jy moet hare op jou tande hê om die Springbokspan af te rig, want ʼn hele jaar se beplanning kan met een nederlaag omvergewerp word.

Verlede  jaar in Durban het Heyneke Meyer se trein ontspoor toe die Bokke met 25-37  in die Rugbykampioenskap vasgeval het teen die Argentynse Poemas. Daar was beserings, spelers is gerus en die Bokke was in die beginstadium van hul voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi.

Dís hoekom dit uiters belangrik vir Allister Coetzee sal wees om vir aanstaande Saterdag se toets in Mbombela (Nelspruit) teen die Poemas met sy spankeuse raak te vat

Hy het in Junie sy eerste hou teen die kennebak in sy debuuttoets gevat toe die Bokke in die eerste van drie toetse teen Ierland verloor het. Dit was tussen die boom en die bas, Coetzee het op die oog af nog nie volle vertroue in van die Lions-spelers gehad nie en die spelers wat oorsee speel, het nie hulle kant gebring nie.

Nou is hy voor sy tweede grootste toets, maar tyd is weer nie aan sy kant nie.

Ek glo nie hy sal waag met sy span of speelpatroon nie, want hy het net ʼn paar dae om sy span saam te snoer.

ʼn Groot probleem is dat die nege spelers van die Lions hulle eers Donderdag by die span aansluit nadat hulle Saterdag in Wellington in die eindstryd van die Superrugby-reeks teen die Hurricanes gespeel het.

Die sewe spelers wat oorsee speel, sluit hulle eers Sondag by die span aan weens hul voorseisoense klubverpligtinge en Juan de Jongh en Francois Hougaard keer eers  ná die sewes-toernooi in Rio de Janeiro huis toe.

Die Poemas, oftewel die Jaguares, was baie teleurstellend in die Superrugbyreeks. Hul dissipline (twee rooikaarte en sewe geelkaarte)  het hulle in die steek gelaat en daar was nie ʼn  duidelike speelpatroon nie. Nou klap die nasionale afrigter, Daniel Hourcade, weer die sweep was die Poemas die afgelope paar dae op ʼn oefenkamp.

Hulle oefen tot Donderdag en reis dan Suid-Afrika toe waar hulle hul hoop vestig op ʼn tweede skokoorwinning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

louis ·

Raakvat is nie die antwoord nie! Die beste op vorm spelers en kombinasies is. Die Argentyne kom met n plan en dit is n wenplan! Ligloop Allister!!

Jakkalas ·

Ek is steeds nie oortuig dat AC die regte keuse is nie. Sy volharding met een dimensie spelers soos De Allendesê vir my dat hy soos HM stampkar senters bo vaardigheid stel. Juan de Jong is nie die speler wat hy jare terug was nie. AC praat van sy kultuur in die span wat hy wil vestig. Wel kom ons sien of ons dalk die reëndans om die vure moet doen en hoop dat dinge vir ons goed sal verloop en of die “Proteas” ‘n wen kultuur sal skep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.