Allister sal nie meer as net skaaf aan sy span nie

springbok-logo croppedDit sal volgens baie seker nie naastenby genoeg wees nie, maar dit lyk of die Springbokafrigter Allister Coetzee met die spanaankondiging Woensdagaand darem hier en daar gaan toegee dat op sy span tot dusver verbeter kan word.

Terugvoer vanuit Australië dui daarop dat Coetzee by die senters kan verander vir Saterdag se toets in Brisbane teen Australië.

Of hy egter verder sal gaan as om Damian de Allende en miskien ook Lionel Mapoe te pos, sal gesien moet word. Juan de Jongh en Jesse Kriel, verdagte verdediging en al, kan die nuwe senterpaar wees.

De Allende het sy kanse gehad – en Mapoe het daaronder gely, as ʼn mens in ag neem hoe hy langs ʼn veel beter binnesenter soos Rohan Janse van Rensburg gedy het.

Mapoe se selfvertroue is moontlik daarmee heen na sy huidige gesukkel langs De Allende.

Geoordeel aan die spelers wat Coetzee by die oefeninge laat saamoefen het, lyk dit of hy aan vaskopkant dalk ook kan verander waar Vincent Koch dalk deur die stewige skrumwerker Lourens Adriaanse vervang kan word.

Maar lê die fout nie eerder aan die loskopkant by Beast Mtawarira nie? Hy is nie ʼn skadu van toe hy op sy beste was nie. Steven Kitshoff, in die los en ook veral in die skrums, is ongetwyfeld die beste roep.

Selfs Trevor Nyakane, wat nou weer ná sy besering reg is, sal ʼn verbetering op loskop wees. Hy sal weens sy veelsydigheid egter amper seker op die bank wees – maar dan moet daar voor die wedstryd aan die skeisregter vertel word hy skrum aan albei kante, nie soos verlede jaar op Ellispark toe dit die Bokke gekos het nie.

Maar sien Coetzee-hulle die voorry-permutasies so?

En sal Coetzee teruggaan op sy siening dat Lood de Jager tans sy beste rugby speel voor hy hom in die eerste toets teen die Poemas gekies het? Lood is nie naastenby die yster van verlede jaar nie en verdien nie om op meriete voor Pieter-Steph du Toit te begin nie.

En is dit nie tyd dat hy nóg een van sy bankspelers, Jaco Kriel, in die plek van Francois Louw laat begin nie? Louw is oorspeel en verdien die breekslag – iets wat Coetzee glo as rede vir Willie le Roux en JP Pietersen se weglating teenoor hulle aangevoer het.

Die bank het nog in elke toets teen die einde die kastaiings uit die vuur gekrap, behalwe in die laaste toets in Salta. Ook tóé was daar noemenswaardige verbetering.

Elton Jantjies, wat as jong Bok destyds in die Kaap deur Coetzee in ʼn tweederangse speler omskep is, sukkel om sy selfvertroue te herwin nadat daar wéér met sy natuurlike talent gefoeter is.

Goed, hy is takties nie die beste skopper ter wêreld nie, maar as Coetzee dink aan ʼn nuwe speelpatroon (iets wat ons nog nie gesien het of kon peil nie) is daar tans geen ander opsie as die Lions se invloedryke aanvallende losskakel nie.

As Jantjies net ʼn beter diens van Faf de Klerk kan kry wat, ondanks sy uitstekende losspel, met sy aangeewerk en oordeel sukkel, sal dit seker ook beter met die losskakel gaan.

Francois Hougaard sal die vleuel wees, geoordeel aan die oefeninge. Maar nou wonder mens of Lwazi Mvovo nie weer verkies sal word nie, bloot om die sportminister tevrede te stel nie.

Hoekom is hy hoegenaamd saam? Mvovo kan seker teen swakker spanne toetsrugby speel, maar is nie naastenby die beste nie. Courtnall Skosan is Saterdag beseer, maar moes toe al saam met die span in Australasië gewees het. Of dalk Jamba Ulengo (sterk dog ietwat stadig), of Travis Ismaiel, of Leolin Zas …

Daar moet maar gewag en gekyk word wie gekies sal word. Maar dit sal seker nie veel verskil van die span waarby Coetzee nou half, om sy eer te red, moet bly en dus ook hoop nie:

Johan Goosen, Francois Hougaard/Lwazi Mvovo, Jesse Kriel, Juan de Jongh, Bryan Habana, Elton Jantjies, Faf de Klerk, Warren Whiteley, Oupa Mohoje, Francois Louw, Eben Etzebeth, Lood de Jager, Vincent Koch, Adriaan Strauss, Beast Mtawarira.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan ·

Hoor Matfield is genader om senter te speel. Sy gunstelling posisie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.