Allister se kopkrappers

Francois Hougaard. (Foto: Instagram)

Wat het geword van Cheslin Kolbe se ongelooflike vaardighede? En hoekom het Francois Hougaard die pad na Engeland gevat omdat hy nie sy plek in die Springbokspan kon vasmessel nie?

Dis twee van die talentvolste en vaardigste spelers in Suid-Afrika, maar hoeveel het hulle die afgelope twee, drie jaar ontwikkel?

Ja, Kolbe kan nou beter verdedig, sy besluitneming is beter en Hougaard het geleer om takties te skop, maar druk en maak hulle nog drieë?

Hougaard is soos ʼn klimtol rondgegooi, dán op skrumskakel en dan weer op vleuel, want hy kan albei posisies van die plaasvervangersbank af dek.  Albei is by die Blitsbokke betrek, omdat hulle met natuurlike talent gebore is, maar dis nie ʼn eens ʼn uitgemaakte saak dat hulle saam met die Spele-span Rio de Janeiro toe gaan nie.

Hierdie is twee van die talle kopkrappers wat op Allister Coetzee wag wanneer hy aanstaande week as Bok-afrigter aangestel word. Gaan hy natuurlike talent betrek?

In Nieu-Seeland word daar gegons oor die Chiefs se blondekop-heelagter Damian McKenzie (20) se impak wat hy in vanjaar se Superreeks maak. Hy is net 1.75 m lank en weeg 81 kg, gans te klein en te lig vir sekere spanne se stampkar-afrigters, maar wanneer hy aan die bal raak, gebeur daar dinge.

Voor Vrydag se kragmeting met die Blues het McKenzie reeds sewe drieë vir die Chiefs gedruk, net drie drieë minder as die Stormers se tien in die reeks. Dit laat ʼn mens dink hoekom die Stormers, ondanks begaafde spelers soos Kolbe, Leolin Zas en Juan de Jongh, nie die drieë kan inryg nie.

Word die begaafdheid van spelers nie jare lank al onderdruk nie en word hulle nie in verdedigende spelpatrone ingedwing nie? ʼn Mens hoe net na die driedruk-syfers van die afgelope jare se Superrugby te kyk om te weet Suid-Afrika is in dié opsig agter.

As McKenzie vir die All Blacks gekies word – dit lyk na uitgemaakte saak dat hy in Junie op die bank teen Wallis sal wees as hy beseringsvry bly – sal die All Blacks drie van die kleinste spelers in wêreldrugby in hul agterlyn hê. Die losskakel Aaron Cruden ( 1.71 m en 85 kg) en die skrumskakel Aaron Smith (1.75 m en 84 kg) is baie kleiner as die meeste ander spanne se spelers, maar wie gaan hulle keer?

Daar word nie gekarring aan McKenzie se vermoë om teenstanders te klop nie. Hy word nie geleer dat hy nie vanuit sy eie kwart- of halfgebied mag hardloop nie, hy mag foute begaan, want dis deel van rugby.

Gaan Allister Coetzee dieselfde paadjie stap?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.