Allister se reddingsboei

Allister Coetzee (Foto: Talking Rugby Union)

Allister Coetzee (Foto: Talking Rugby Union)

Wanneer ʼn afrigter die leisels neem, is een van die belangrikste  besluite dat hy die regte bestuurspan om hom moet hê.

Dit is weer beklemtoon toe ervare en hoogaangeskrewe Richard Cockerill die trekpas as Leicester se hoofafrigter gekry het.

Die gewese All Black- en Crusaders-senter Aaron Mauger, wat Cockerill se hulpafrigter was, neem tydelik oor.

Volgens Mauger het hy en Cockerill gereeld oor afrigting verskil en oor hoe Leicester moes speel. Dit het onuithoubaar geword  en het oorgespoel na die spelers en hul vertonings op die veld.

“Dit het ʼn punt bereik dat wanneer ek ‘swart’ gesê het, Cockers ‘wit’ sou sê,” het Mauger volgens The Guardian gesê.

Dit was een van die groot foute wat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) verlede jaar begaan het toe Allister Coetzee nie ʼn kans gegee is om sy vertrouelinge aan te stel nie.

Toe Heyneke Meyer in die saal was, het hy hom onder meer beroep op Johan van Graan (voorspelers)  Ricardo Loubscher (agterlyn), John McFarland (aanval en verdediging), Basil Carzis (kondisionering) en Ian Schwartz (bestuurder).

Dit was almal  vertrouelinge met wie hy sterk bande by die Bulls gehad het, mense wat hy kon vertrou, met wie hy kon saamwerk.

Ja, Meyer is wel nie heraangestel nie, want die Bokke kon nie die Wêreldbeker wen nie, kon die All Blacks net een keer in agt toetse klop en het teen Japan en Argentinië verloor. Tog was Meyer se kop voor 2015 nooit op die blok nie, want daar was samehorigheid en Meyer kon ondanks hierdie nederlae met ʼn wenpersentasie van 67% afsluit.

Dit het my laat terugdink toe Nick Mallett tussen Alan Solomons en Jake White in 1999 moes kies.

White was tussen 1997 en 1999 die Bokke se tegniese ontleder, Solomons was Mallett se regterhand.

Die Bokke was in 1998 op die kruin van die golf en het die wêreldrekord van 17 agtereenvolgende wentoetse geëwenaar, maar toe verloor hulle teen Engeland. Spanning het tussen die afrigters begin opbou en Mallett het vir Solomons, en nie White nie, behou.

Sou Coetzee verlede jaar beter gevaar het as hy sy eie bestuurspan kon kies?  ʼn Mens sal nooit weet nie, maar dit kan sy reddingsboei wees wanneer daar, hopelik binnekort, oor sy toekoms besluit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

callie ·

Hoekom het hy die pos aanvaar met daardie voorwaardes. Meyer het sy integriteit bewys deur te loop oor kwota voorwaardes. Coetzee is in by die politiek en ry die soustrein. SA rugby is gedoem met hom , sy politieke vriende en hul kwotastelsel. Die man se integriteit is hoogs onder verdenking. Na elke verloor het hy die spelers wat hy gekies het blameer.

Hannes van Rensburg ·

Politiek, rugby se ondergang. SA beskik oor spelers gelykstaande aan die All Blacks maar SARU se kwota’s stelsel verhoed SA om wereld kampioene te lewer. Dit is die rede waarom so baie talentvolle spelers die land verlaat.

Callie van der Merwe ·

Volgens my is SA rugby deur politiek vernietig! AC is net daar vir die geld en niks anders!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.