Allister, wat van Robert en JC?

Daar is veral twee spelers wat bitter ongelukkig is om nie in die Springboktoerspan te wees vir die komende Europese toer nie: Robert du Preez en JC Janse van Rensburg.

Daar is baie meer spelers wat gelukkig is om in die Springbok-toerspan te wees: Raymond Rhule, Curwin Bosch, Damian de Allende, Rudy Paige, Chiliboy Ralepelle en Trevor Nyakane.

ʼn Paar maande gelede het die Bokafrigter, Allister Coetzee, gesê dat dit baie moeilik is om in ʼn Springbokspan plek te kry, maar nog moeiliker om daar uit te kom.

Ware woorde!

In die afgelope Saterdag se Curriebeker-eindstryd tussen die Sharks en Westelike Provinsie op Kingspark in Durban, het veral twee WP-spelers baie sterk op die voorgrond getree: Du Preez en Janse van Rensburg.

Du Preez het die talentvolle Curwin Bosch oorskadu, net soos in die Curriebekerwedstryd van ʼn paar weke gelede. Maar die Springbokspan was na alle waarskynlikheid reeds voor die eindstryd gekies.

Bosch in; Du Preez uit.

Ek het baie agting vir Bosch, die kalmte wat hy bring, sy visie en uitmuntende skopvoet, maar ek is seker dat elke toetsspelende land se afrigtingspan wat video’s ontleed, sou gesien het dat daar tekortkominge is: dat Bosch nie van kontak hou nie, swakkerig verdedig en al hoe dieper speel namate die druk groter word.

Du Preez het al hoe beter gespeel namate dit warmer geraak het. Hy het ook al hoe nader aan die voordeellyn beweeg, kanse geskep, sy snellers in spel gebring en ook uitstekend geskop.

Ja, hy het agter die wen-agtal gespeel, maar daar is die afgelope paar maande genoeg van hom gesien om Springbok te word.

Janse van Rensburg? Hy moes jare gelede reeds Springbok geword het toe hy nog by die Goue Leeus was, toe hy 67 keer die Curriebekerspan en meer as 50 wedstryde vir die Lions in die Superrugbyreeks gespeel het. Hy is toe Bayonne in Frankryk toe waar hy nog meer voorrykunsies aangeleer het.

Hy is nou 31 jaar oud, glad nie te oud vir ʼn stut nie.

Hoeveel stutte het die afgelope vyf jaar al die oorhand oor hom in die skrums gehad?

Hy staan nou agter Beast Mtawarira en Steven Kitshoff in die ry, maar is hy enigsins swakker?

Nee!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Om ‘n Springbokafrigter te wees verg meer as die gewone,want dit het ‘n balansseertoertjie geword tussen die verwagtinge van die rugbypubliek en die van die politieke base.Solank dit voortduur moet ons as Springbokondersteuners maar vergeet dat die Springbokke ooit weer die nommer een span sal word of ‘n wêreldbeker sal wen.

Dit is tog duidelik uit die spankeuses dat ‘Wiens brood men eet diens woord men spreekt’ ook hier van toepassing is.Waar provinsiale afrigters nog kan wegkom met spankeuses
is dit mi nie die Springbokafrigter beskore nie.

Daniel ·

morne steyn kon en wou nie tackle nie , maar was suksesvol.

Bosch bring baie meer op die aanval. en het die regte skills vir aanvallende rugby

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.