Alun Wyn wéér op krukkelys

Wallis se Alun Wyn Jones. Foto: Twitter.

Alun Wyn Jones, Wallis se kaptein, sal die res van die internasionale seisoen misloop nadat hy sy skouer in Saterdag se wedstryd teen die All Blacks in Cardiff beseer het.

Dit is dieselfde skouer wat ook gesorg het dat hy die begin van die Britse en Ierse Leeus-toer na Suid-Afrika misgeloop het. Hy het egter toe wonderbaarlik betyds herstel om die besoekers teen die Springbokke aan te voer.

Die 36-jarige slot, wat die afgelope naweek sy 149ste wedstryd vir die Rooi Drake gespeel het, het in die eerste helfte reeds die veld verlaat. Daar is intussen bevestig dat hy dié keer vir etlike maande op die krukkelys sal wees.

Wayne Pivac, afrigter, het vroeër gesê dat hy dit sal verkies as die veteraanslot ook Wallis tydens die volgende Wêreldbeker-toernooi in 2023 sal aanvoer.

Jones sal dan 38 jaar oud wees.

“Dit sal ’n groot uitdaging vir Alun Wyn wees, maar hy is ongetwyfeld die een persoon wat dit sal kan doen. Sy voorbereidingswerk was nog altyd uitstekend en hy sal weet wat van hom as ’n speler verwag word. Hy sal uiteindelik self die keuse moet maak,” het Pivac verlede jaar gesê.

Taulupe Faletau en Ross Moriarty sukkel ook met beserings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Daar is natuurlik ook Vader Tyd en die ou liggaam werk nie meer pragtig saam nie .. Ons moet een of nader tyd aftree , uittree , pensioen neem, dinge rustiger vat ens. Morne Steyn doen die regte ding.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.