Am besing ‘briljante’ Kolbe se lof

Cheslin Kolbe het ook uitstekend verdedig. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Toe Cheslin Kolbe vroeër tussen die Olimpiese Spele en ’n kans om teen Warren Gatland se toerspan uit te draf moes kies, het die Britse en Ierse Leeus-avontuur swaarder as ’n goue medalje geweeg.

“Hoewel ek mal daaroor sou gewees het om sewesrugby vir my land by die Tokio Olimpiese Spele te speel, is die Britse en Ierse Leeus-reeks ’n gebeurtenis waarvan ek beslis wil deel wees; juis omdat dit net elke 12 jaar plaasvind,” het hy destyds in ’n onderhoud met Planet Rugby gesê.

En gisteraand het die blitsige vleuel – vermom in die trui van die SA A-span – sy stempel dubbel en dwars op die Leeus-toer afgedruk.

Hy het met sy gebruiklike zoep-zap-en-zirtslopies beïndruk, vreesloos verdedig en op skrumskakel uitgehelp toe Faf de Klerk met ’n geel kaart van die veld gestuur is.

Daarbenewens het hy ’n reuse-aandeel in Lukhanyo Am se drie in die eerste helfte gehad; iets waarvan die Haai-agterspeler maar al te bewus is.

“Cheslin was briljant en hy sorg vir soveel energie. Terselfdertyd is hy een van ons belangrikste spelers en hy was oudergewoonte weer oral op die veld – dit is wonderlik om hom in die span te hê,” het Am gesê.

Die 27-jarige buksie is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys, maar hy het in die daaropvolgende onderhoud gesê dat die hele span eerder dié toekenning vir hul spel verdien.

“Ons wou vanaand wys wat dit vir ons beteken om die trui te dra. Die land gaan tans deur ’n baie moeilike tyd en ons wou net [deur ons spel] hoop bring,” het Kolbe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sparky

Eks mal oor Cheslin,Tipe Danie Gerber spel,

Hendrik

Daardie kort kouse wat die verskil maak

Baardman

Briljante speler, ook nie suinig om die bal op die regte tyd uit te gee nie. Kry lekker as hy die opponente so sidestep.