Amper … maar Blitsbokke is toe derde

Amper … maar in die wêreld van sewesrugby is dít die frustrerende realiteit.

Suid-Afrika is Sondagoggend vroeg (SA tyd) in die halfeind van die Vancouver-sewestoernooi van wêreldrugby deur Fidji met hulle groot spelers uitgeskakel en het toe die troosprys van ʼn derde plek gekry.

Maar die Blitsbokke was so baie amper in die eindstryd. Met die telling op 12-15 teen Fidji het die mank en ontwrigte Blitsbokke se Shakes Soyizwapi die bal verloor toe hy deur die gaping die bal op die doellyn laat val en die eindfluitjie geblaas het.

Dit Blitsbokke het die Fidjiane met swermverdediging in toom gehou en ʼn mens kon sweer die arm van Soyizwapi is in die vangslag op die doellyn geklap om die Blitse se moedige poging in teleurstelling te laat eindig.

♦  In die uitspeel om derde plek het die Blitsbokke die grootmond-Yanks met hulle twee naellopervleuels op die neus laat kyk toe hulle die VSA met 29-7 verniel het. Die VSA het die titel verlede week in Las Vegas gewen.

Die Blitsbokke behou daarmee die eerste plek op die reekspunteleer, maar is nou net agt punte voor die tweede span, Fidji.

Die eindstryd is deur Fidji gewen, wat Kenia met 31-12 geklop het en die eerste span is wat vanjaar in die ses toernooie twee keer as kampioen gekroon is.

Die wispelturige aard van sewesrugby en die groei in gehalte van die reeks word weerspieël deur die feit dat daar vyf wenners in ses toernooie was; dat die eens middelmatige VSA (wat een van die vyf wenners was), Argentinië (twee keer) en Kenia al in die huidige reeks se eindstryd gespeel het; en dat lande soos Nieu-Seeland en veral Engeland sukkel om konstant hul stempel af te druk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.