Amper ongelooflik: Frankryk hou by sy verloorspan

Guy Noves – kies ʼn onveranderde span.
(Foto: FFR)

Dit kan nie moontlik wees nie … ʼn Franse rugbyspan wat nie verander word nie, al het die Hane die vorige Saterdag vasgeval.

Maar dit is presies wat die Franse afrigter, Guy Noves, gedoen het toe hy Donderdagmiddag die span aangewys het vir Saterdag se toets teen die Springbokke in Parys.

Die All Blacks het die Hane in St. Denis met 38-18 geklop, maar Noves het sekerlik die eerste keer in Franse rugbygeskiedenis na ʼn neerlaag die snoeiskêr in die laai gehou.

Vreemd, vreemd, vreemd …

Noves glo dié span verdien ʼn tweede kans, veral ná hul vertoning in die tweede helfte nadat die Hane met rustyd met 3-31 agter was.

Dit stem ʼn mens tot onrus, sal die Afrikaanse proffies sê. Dit maak jou bang, sal die rugbyondersteuners byvoeg, want dit is dalk net die regte doepa wat Franse rugby nodig het: kontinuïteit.

“Ons gaan spelers wat die eerste keer (toetsrugby) gespeel het, nie vir die honde gooi nie,” het Noves by die spanaankondiging gesê. “Ek glo dié span het die reg verdien om in ʼn tweede toets sake reg te stel. Ek glo die span het die potensiaal wat ons nie in die eerste toets gesien het nie.”

Daar is net een verandering op die plaasvervangersbank, met die vurige jongeling Sebastien Taofifenua wat die stut Raphael Chaume vervang.

Dít terwyl die Bokke vier veranderings aan hul beginspan gemaak en tien in die spelersgroep aangebring het wat teen die Iere skandes gemaak het. Boonop is van die SA spelers sekerlik rugbymoeg ná ʼn lang seisoen en van die spelers kort straks wedstrydskerpheid.

Suid-Afrika het wel die laaste vyf wedstryde teen die Hane gewen en loop met 25-11 in toetse tussen die twee lande voor met ses gelykopuitslae.

Maar iewers brand ʼn waarsku-liggie: Franse rugby het dalk die term bestendigheid ontdek.

Nou moet hulle daad by woord voeg, word daar mos op universiteit gesê.

Frankryk –
15 Nans Ducuing, 14 Teddy Thomas, 13 Geoffrey Doumayrou, 12 Mathieu Bastareaud, 11 Yoann Huget, 10 Anthony Belleau, 9 Antoine Dupont, 8 Louis Picamoles, 7 Kevin Gourdon, 6 Judicael Cancoriet, 5 Paul Gabrillagues, 4 Sebastien Vahaamahina, 3 Rabah Slimani, 2 Guilhem Guirado (kaptein), 1 Jefferson Poirot. Bank: 16 Clement Maynadier, 17 Sebastien Taofifenua, 18 Daniel Kotzé, 19 Paul Jedrasiak, 20 Anthony Jelonch, 21 Baptiste Serin, 22 Francois Trinh-Duc, 23 Damian Penaud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henry ·

Duidelik dat die Franse glo dat selfs hul ‘verloorspan’ goed genoeg al wees om die span wat Springboktruie dra, te klop.
:-)

Willie ·

Nee wat ek dink die ou bokkies gaan verloor… hule het geen rigting of struktuur nie… Dit gaan n sterk span kos om hulle te wen nie…

Gatvol ·

Dit is altyd vir my n raaisel deur sogenaamde rubriekskrywers om hulle ongeloofdheid uit te spreek as n span se afrigter nie aan die span torring na n verloor wedstryd nie.Jy sal nooit samehorigheid kry as jy willens en wetens spelers uitlaat,net omdat jy verloor het. Spelers is ook maar mens en het hulle goeie en swak dae. Ek praat nie van gedwone veranderinge nie. Hoekom doen die bokke nie goed nie? Beantwoord maar self die vraag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.