Andy Haden was die baanbreker vir geldrugby

Andy Haden. Foto: New Zealand Rugby se amptelike Twitter-rekening.

Dit het sekerlik baie rof gegaan wanneer jy teen Andy Haden rugby gespeel het, want dié All Black-slot was hard, taai en genadeloos.

Maar dit was ewe moeilik om ʼn onderhoud met hom te gevoer het, want hy was ewe hard, taai en genadeloos (en baie slim daarby).

Haden (69) is Woensdagoggend in Nieu-Seeland oorlede nadat hy sy jare lange stryd teen kanker verloor het.

Huldeblyke van oor die wêreld stroom in omdat hy een van die mees invloedryke spelers en administrateurs was. Hy kan tereg as een van die groot baanbrekers beskou word wat die weg vir professionele rugby gebaan het.

Haden was een van die argitekte van die Nieu-Seelandse Kavaliers se rugbytoer in 1986 na Suid-Afrika nadat die All Blacks in 1985 deur ʼn hofbevel verbied is om deur die land te toer.

Almal weet dat die spelers wat die toer meegemaak het, duisende (in die amateurdae) betaal is omdat hulle bereid was om standpunt in te neem, amateurrugby se doelpale verskuif het, tong na die Nieu-Seelandse rugbyunie uitgesteek het, maar ook hul loopbane op die spel geplaas het.

Haden het ook in 1981 in al drie toetse teen Wynand Claassen se Springbokspan gespeel.

Dis hier waar Suid-Afrika die eerste keer met een van die ysters van Nieu-Seelandse voorspelerspel te doene gekry het.

Haden het in 41 toetse gespeel, altesame in 112 wedstryde en was agt keer die kaptein.

Maar hy was altyd ʼn klippie in iemand se skoen.

Dis hy wat die All Blacks aangemoedig het om die drie strepe van Adidas op hul stewels swart te verf omdat hy koppe met die maatskappy oor vergoeding gestamp het.

Dis hy wat onthul het dat die Crusaders kleurkwotas toepas en toe as ambassadeur van 2010 se Wêreldbekertoernooi bedank het nadat hy na inwoners van die Suidsee-eilande as “darkies” verwys het.

Dis hy wat in 1978 ʼn strafskop gemelk het toe Wallis op pad was om die All Blacks te klop. Haden het met die laaste beweging uit die lynstaan “geval” om ʼn strafskop af te dwing wat die All Blacks in staat gestel het om met Brian McKechnie se doodsnik-strafdoel te wen.

In 1986 wou hy aanvanklik geen onderhoud toestaan nie, maar later het hy tog aan die SAUK se TV-nuusspan (vir wie ek toe gewerk het) ʼn onderhoud toegestaan.

Haden was ʼn geslote boek en net soos hedendaagse ministers en ander hoë beamptes wanneer hulle voor die Zondo-kommissie getuig, was sy standaardantwoord óf “nee,” óf “ek kan nie onthou nie”.

Nadat ons opgepak het ná ʼn mislukte onderhoud het hy ewe stout gevra: “Kan ek vir julle ʼn bier koop?”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.