Georgië se teenwoordigheid by hul sesde agtereenvolgende Rugbywêreldbekertoernooi sedert 2003 is ʼn besondere prestasie gegewe dat hulle eers in 1992, ná die ontbinding van die Sowjetunie, by die Internasionale Rugbyraad (nou Wêreldrugby) aangesluit het.
Dit moet egter nie te veel van ʼn verrassing wees nie: Georgië se DNS is deurspek met die rowwe antieke spel genaamd lelo burti, wat vertaal word as “veldbal”.
Die brutale tradisionele spel stel geen beperking op die getal deelnemers aan ʼn wedstryd of hoe lank dit duur nie. Daar is ook gʼn skeidsregter in sig nie – vir ʼn spel met só min reëls is daar nie juis ʼn behoefte aan een nie.
Die spel word steeds af en toe in landelike gebiede gespeel, onder meer in die dorpie Shukhuti in die westelike streek Guria, waar die jaarlikse wedstryd die oorwinning van die Guriane in die stryd teen die Ottomans herdenk.
Elke Paastyd verdeel die dorpie in Boonste Shukhuti en Laer Shukhuti, met die twee spanne wat dan meeding om die swart leerbal – handgemaak, gevul met grond en met ʼn gewig van 16 kg – van die een kant van die dorpie na die ander te probeer kry.
ʼn Plaaslike priester begin die wedstryd deur die bal van die kerktrappies in die skare te gooi. Spelers vorm ʼn reuseskrum en sit dié losgemaal dan ure lank in die dorpie voort; so reg in die kraal van diegene soos Guram Papidze en Beka Gorgadze.
Die wenners dra die bal na ʼn begraafplaas en plaas dit op die graf van ʼn dorpenaar wat in die vorige jaar dood is.

Die opkoms van Georgiese rugby in die 21ste eeu was verstommend met skares van duisende mense wat opruk om na wedstryde in Tbilisi te kyk. (Foto: Giorgi Arjevanidze/AFP)
Die opkoms van Georgiese rugby in die 21ste eeu was verstommend met skares van duisende mense wat opruk om na wedstryde in Tbilisi te kyk.
As eerbetoon aan die antieke spel word die woord “lelo” nou vir drie in rugby gebruik en die nasionale span se bynaam is die Lelos.
Hulle is sewende op die Europese ranglys en 11de in die wêreld en verlede November het hulle hul beste vertoning nog gelewer met ʼn oorwinning van 13 – 12 teen Wallis in Cardiff.

Mikheil Gachechiladze poseer in die kleedkamer tydens ‘n oefensessie voor die Wêreldbeker.(Foto: Giorgi Arjevanidze/AFP)
Met so baie spelers in Frankryk se top-14, is daar kwalik ʼn span sonder minstens een Georgiër en diegene wat weet, sê daar kan ʼn tyd aanbreek wat die Lelos die bestaande orde op sy kop kan keer.
By ʼn Wêreldbeker kon hulle nog nie verder as die groepfases vorder nie en hierdie jaar gaan nie makliker wees nie; Wallis en Australië se onlangse geploeter kan dalk ʼn bietjie hoop skep.
Georgië se openingswedstryd is teen die Wallabies voordat hulle ook vir Portugal en Fidji pak. Laasgenoemde se oorwinning oor Engeland op Twickenham kan dalk vir ʼn verrassing sorg.
Georgië sal die Cardiff-uitslag gebruik as bewys dat hulle teen Wallis kan floreer wanneer hulle die laaste groepwedstryd op 7 Oktober in Nantes speel – en hulle tower dalk net die vertoning op wat aan hulle ʼn plek in die kwarteindstryd kan besorg
Wys bietjie vir Nic White hoe lyk ‘n ordentlike snor Mikheil.